’n Jong rugbyspeler van Stellenbosch sou nooit gedink het dit sou sy laaste wedstryd wees toe hy Saterdag laat in die tweede helfte van sy klub se eerstespanwedstryd opdraf en ’n fratsongeluk sy lewe geëis het nie.
Adrian Arrendse (25) is Sondagaand in Groote Schuur-hospitaal dood nadat hy Saterdagmiddag ’n kopbesering op die rugbyveld opgedoen het toe hy ’n teenstander geduik het.
Volgens bronne het hy ná die duikslag net op die veld bly lê en nooit weer opgestaan nie.
Sy ma, Leeanne, sê dit was vir haar ’n groot skok toe sy ’n oproep kry dat Adrian in die hospitaal is. “Dit is steeds vir my onwerklik. Dit is my baba; hy was nog die oggend baie gelukkig toe hy hier weg is. Hy het ’n tweejarige seuntjie. Dat iets waarvoor hy baie lief was, sy lewe geëis het, is hartseer,” voeg sy by.
Leeanne sê as die jongste van haar vier kinders was hy ’n baie rustige en liefdevolle mens. “Hy het altyd gelag en sy susters geterg. Dit voel regtig vreemd dat hy nog nie huis toe gekom het nie. Ons mis hom vreeslik baie.”
Anneline Houston, voorsitter van die Stellenbosch Coronation-rugbyklub, waar Adrian ’n lid was, sê die spelers en bestuur is hartseer en verstom oor wat gebeur het.
“Adrian was geliefd onder almal by die klub. Hy was altyd jolig en het die ouens se dag gemaak en altyd ’n glimlag gehad. Hy was ’n veelsydige agterlynspeler. Hy het Saterdag opgekom as ’n senter in die tweede helfte vir die eerste span, want hy het vir die tweede span begin. Ons kon hom oral op die agterlyn gebruik. Hy het vroeër ’n drie in die tweede span gedruk,” sê sy.
Houston sê Adrian laat ’n groot leemte in die klub en lewe van baie mense.