Graad 12-leerders wat nie hul gewenste uitslae in die 2023- Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen (NSS) behaal het nie, het slegs vier dae oor om aansoek te doen om die Mei/Junie NSS-eksamen vanjaar te skryf.

Registrasie sluit Vrydag (9 Februarie).

“Dís ’n wonderlike geleentheid om jou NSS te verwerf en dit moenie misgeloop word nie. Die inhoud is vars in die kandidate se gedagtes, so dit sal voordelig wees om vroeër te registreer om te skryf eerder as om ’n hele jaar te wag,” het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die provinsiale onderwysdepartement, gesê.

“Elke kandidaat wat nie geslaag het nie, moet aanhou doen wat hulle kan om hul graad 12-kwalifikasie te voltooi. In die Wes-Kaap het ongeveer 30% van die kandidate wat nie geslaag het nie, nog een vak nodig gehad om te slaag en ongeveer 20% het twee vakke nodig gehad. Hierdie kandidate is so naby om hul doelwitte te bereik.”

Registrasievorms kan aanlyn by wcedonline.westerncape.gov.za gevind word.

Om voor te berei vir hierdie eksamens, kan kandidate voordeel trek uit die talle matriekhulpbronne op dieselfde webtuiste, insluitend studiegidse, video-tutoriale en eksamenvraestelle en memorandums, het Hammond bygevoeg.

“Die Tweede Kans-matriek-ondersteuningsprogram in die Wes-Kaap bied ook gratis tutoriale klasse aan private kandidate wat geregistreer is om die Mei/Junie-eksamen te skryf.”

Die tutoriale sal Afrikaans eerste addisionele taal. landbouwetenskappe, besigheidstudies, ekonomie, Engels eerste addisionele taal, geografie, geskiedenis, lewenswetenskappe, wiskunde, wiskundige geletterdheid en fisiese wetenskappe dek.

“Die ondersteuningsentrums is in sekere gebiede in die Wes-Kaap geleë. Die sentrums sal ondersteuning bied aan leerders wat nie aan die vereistes van die NSS of die uitgebreide Seniorsertifikaat-eksamen (SC) kon voldoen nie. Geen koste is betrokke nie en alle onderrig word gratis aangebied.”

Die program sal na verwagting aan die begin van Maart begin.

Registrasie om aan die program deel te neem, het reeds begin.

Inligting oor registrasie en tutoriale lokale kan op die departement se webtuiste verkry word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article