Die Laerskool Cloetesville, ook bekend as die Groen Skool, het op Vrydag 12 Augustus ’n fotovoltaïese stelsel (sonpanele) van 7,5 kW ontvang, wat sowat 14 MWh (14 000 eenhede) elektrisiteit per jaar kan opwek.
Dit volg nadat die skool verlede jaar die eerste skool in Suid-Afrika geword het wat ’n Energieprestasiesertifikaat (EPC) ontvang het nadat die Universiteit Stellenbosch en die Innovus-afwentelmaatskappy GreenX Engineering (GXE) energiebesparende tegnologie by dié skool geïnstalleer het.
Die stelsel sal jaarliks byna 13 ton koolstofdioksied uitskakel en R20 000 per jaar bespaar terwyl die skool ook elektrisiteit aan die netwerk kan verkoop.
Met dank aan die vennote van hierdie projek, het die Laerskool Cloetesville se hoof, Rodger Cupido, gesê die skool sal nie net die finansiële voordele van hierdie energiebesparende stelsel ervaar nie, maar is nou deel van ’n meer betekenisvolle leerproses, wat die skool na sy gemeenskap kan neem. “Ons is opgewonde om deel hiervan te wees en baie dankbaar vir al die betrokke vennote. Dit is fantasties om al hierdie mense wat ’n verskil maak, hier te hê en ons hoop om voort te bou op hierdie verhouding op ons groen reis as die Groen Skool.”
Die US het onder die leierskap van sy senior direkteur van sosiale impak en transformasie, dr. Leslie van Rooi, dié departement sowel as die fakulteit ingenieurswese in 2021 ’n veldtog begin en ligte by 25 geen- of lae-fooi-skole te vervang om die skole te help om hul elektrisiteitsuitgawes en die las op Eskom en die omgewing te verminder. “Ons het daarin geslaag om die skole se energierekeninge met enigiets van 21% tot soveel as 39% te verminder,” het Booysen gesê.
Danksy nog beskikbare geld nadat die aanvanklike projek voltooi is, kon hulle ’n sonkragaanleg by Die Groen Skool installeer. Die span het in ’n afsonderlike projek in 2018 met ’n toetsprojek begin waarin hulle ’n paar sonpanele by Rhenish Primêr, A.F. Louw Primêr en die Laerskool Stellenbosch aangebring het. Die gunstige resultate het Rhenish gemotiveer om ’n groot sonkragaanleg te bou en die sonpanele van die toetsprojek aan die Laerskool Cloetesville te skenk.
Alex Hall, die hoof van Rhenish, het gesê dit is ’n viering van die menslike gees om hierdie droom ’n werklikheid te maak. “Ons was bevoorreg om vanjaar ons eie sonkragaanleg te installeer, met ’n 22 kW-omsetter wat ons 42 MWatt-uur per jaar gaan bespaar. “Ons is veral trots op die 40 ton koolstofvrystellings wat ons sal bespaar. Dit is met groot trots dat ons op hierdie manier aan die Stellenbosch-gemeenskap kon teruggee,” het Hall gesê.
Van Rooi sê die US bly verbind tot vennootskappe met plaaslike skole op baie vlakke. “Ons doen dit spesifiek om ons skole en gemeenskappe positief te beïnvloed. Dit is wonderlik dat ons ook so kan bydra tot die leergeleenthede van die Laerskool Cloetesville. My opregte waardering aan ons kollegas en die skoolgemeenskap dat ons op hierdie manier kan saamwerk.”
Van Rooi sê aangesien die skool nou ’n 10 kW-omsetter het, sal die US nog ’n paar sonpanele skenk om te verseker dat die aanleg teen volle kapasiteit kan werk.
Agter hierdie jong Innovus-maatskappy sit die span van GreenX onder die leiding van dr. Jason Samuels, wat aan die einde van 2021 sy PhD in elektriese ingenieurswese ontvang het asook navorsing wat gelei het tot energiekostebesparings by skole in die Stellenbosch- en Paarl-streek.
Samuels se mentor, prof. Thinus Booysen, professor by die US se departement elektriese en elektroniese ingenieurswese, en prof. Saartjie Grobbelaar, professor in die departement bedryfsingenieurswese, is albei by die maatskappy betrokke.
Salie Abrahams, die adjunk-direkteur-generaal van onderwysbeplanning by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê dié projek wys wat skole kan doen om gemeenskappe te help om ná ’n baie moeilike tydperk te herstel.
“Vandag is ’n fantastiese dag. Hier sien ons eerstehands hoe skole ’n breër rol in gemeenskappe kan vervul deur dienste te verskaf wat hulle kan help ophef. Met hierdie kreatiewe projek sien ons hoe skole kan help om die nasionale energiekrisis die hoof te bied en die veerkragtigheid en algemene welstand van die plaaslike gemeenskap van Cloetesville te verbeter. Ons moet nou ’n manier vind om ’n skaalbare model te ontwikkel wat ons na meer skole kan uitrol sodat meer gemeenskappe by hierdie vernuwings kan baat vind.”
Abrahams het gesê die Wes-Kaapse regering en WKOD wil aan hierdie proses deelneem. “Om hierdie projek vorentoe te neem, is ’n prioriteit vir ons en ons sien daarna uit om die vennootskappe te bou wat die nodige platform sal skep om soveel skole as moontlik aan boord te kry. Hierdie projek het die volle ondersteuning van die WKOD vorentoe.”
Meer skole bevoordeel
Die WKOD het onlangs die geleentheid aan GreenX Engineering gebied om IoT-energiebestuur en beligtingsdoeltreffendheid-opgraderings by 25 geen-fooi-skole in die Wes-Kaap van stapel te stuur en hulle te help om hul elektrisiteitsrekeninge te verklein. GreenX het uitgebreide energie-oudits vir hierdie projek, wat R6 miljoen behels, by die verskillende skole gedoen om te bepaal hoe hulle die skole met energiebesparende ligte en meters kan help om hul energieverbruik te meet en te bestuur.
“Ons het reeds 100 geen-fooi-skole in die Wes-Kaap geïdentifiseer wat by ons energie-ingrypings sal baat vind,” sê Samuels. “Ons hoop ná die suksesvolle voltooiing van die werk aan die eerste 25 skole sal die WKOD ons projek uitbrei om die res van die 75 skole in te sluit. Hierdie energie-ingrypings sal gebruikskostebesparings vir die skole teweeg bring, en ook die WKOD grootliks bevoordeel aangesien die departement ’n bloudruk sal hê om na ander skole in die streek uit te rol.”
Samuels sê: “Ons voorsien dat ’n skool enigiets tussen 20% en 40% op hul energierekeninge sal kan bespaar, wat ’n gemiddelde besparing van sowat R3 000 per skool per maand en ’n totaal van R36 000 per jaar kan beteken.”