Wanneer jy jou tjoppie geniet, moet jy besef dit is deels danksy die werk van die personeel by die provinsiale veeartsenykundige laboratoriumdienste in Stellenbosch.
Dié laboratorium is Maandag (6 Mei) amptelik heropen ná maande se opgraderingswerk. Die projek het aanvanklik in 2018 begin toe ’n boom op ’n gedeelte van die gebou geval het. Hierna het die departement van infrastruktuur gevra of nog werk kort, en vandaar is onder meer lugversorging, die elektriese netwerk en waterstelsels opgradeer en ’n hysbak ingesit.
Die plaaslike fasiliteit, wat vanjaar 51 jaar oud is, is verantwoordelik vir die toetsing van vee om onder meer seker te maak die vleis en melk wat in die mark verkoop word, is veilig vir die publiek sowel as vir uitvoer.
“Die fasiliteit, en die personeel hier, is uiters belangrik vir ons ekonomie. Julle kyk na die gesondheid en veiligheid van dit wat uiteindelik die tjoppie op ons bord word,” het dr. Mogale Sebopetsa, die hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, gesê.
Sebopetsa sê sonder dié werk sou produsente ook nie hul produkte kon uitvoer nie.
Dr. Riaan Putter, ’n veearts van George, sê hy is dankbaar die laboratorium het seker gemaak hul dienste het voortgegaan ten spyte van die laboratorium wat tydens bouwerk nie self toetswerk kon doen nie. Putter, ’n vee-spesialis, sê hy hoop die opgradering beteken ook bykomende dienste sal eersdaags deur die staatsfasiliteit beskikbaar wees. Hy het nietemin die fasiliteit geloof vir die dienste wat hulle reeds aan die sektor bied.
Dié dienste sluit in bakteriologie, histopatologie, parasitologie en parasitologie-toetsing, met sowat 26 000 toetse wat per maand gedoen word.
Die provinsiale minister van landbou, dr. Ivan Meyer, sê die waarde van die laboratorium en van veeartse kan nie onderskat word nie. “Die laboratorium is nou die standaard [vir die sektor] en wanneer ek weer voor die begrotingskomitee verskyn, sal ek aan hulle die waarde-, koste-voordeel-ontleding en belegging van hierdie fasiliteit verduidelik,” het Meyer gesê.
Hy sê hoewel die fasiliteit nou ’n wêreldgehalte-diens kan lewer, is dit net so belangrik dat die personeel gelukkig is.
“Ek wil julle bedank vir die werk wat julle doen en Marico [Adams] is reg – dit is wonderlik om te kom na ’n werksomgewing wat jy geniet. Hierdie belegging is dus ook julle belegging in die sektor.”
Adams, ’n administratiewe klerk by die laboratorium, het op sy beurt vertel hoe aangenaam dit nou is om “op die heuwel” te werk. Hy is opgewonde om te sien hoe die fasiliteit sal groei sodat hy en sy kollegas hul werk “bloot vir die liefde vir landbou” kan verrig.