Landbou vereer beste personeel by prestige geleentheid

Landbouwerkers in die Stellenbosch-streek is verlede Donderdag (27 Julie) tydens die Stellenbosch- Prestige Landboutoekennings vir hul harde werk en bydrae tot die landboubedryf vereer.


Landbouwerkers in die Stellenbosch-streek is verlede Donderdag (27 Julie) tydens die Stellenbosch- Prestige Landboutoekennings vir hul harde werk en bydrae tot die landboubedryf vereer.

Die geleentheid is deur die Stellenbosch-landbougenootskap in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou en Shoprite aangebied.

Die kompetisie het vanjaar meer as 80 inskrywings in 13 afdelings ontvang. Die afdelings het ingesluit algemene werker, drywer, besproeiingspesialis, diereproduksie, tegniese operateur, gemeenskaplike ontwikkeling, administratiewe personeel, voorman, junior bestuur, middelbestuur, beste presterende plaas, beste potensiaal en Stellenbosch-landbouwerker van die Jaar 2023.

Darryl Jacobs, adjunk-direkteur van landbou-onderrig en -opvoeding in die Wes-Kaap, het by die geleentheid gesê dit is ’n voorreg om landbouwerkers op hierdie wyse vir hul bydrae tot die landbousektor te vereer.

“Elkeen van julle vervul ’n belangrike rol in die landbouproses en sonder julle sou hierdie aand nie moontlik gewees het nie. Ek wil julle aanmoedig om die beste weergawe van julself te word. Die landbousektor bied baie geleenthede – gryp dit aan,” het Jacobs gesê.

In die afdeling algemene werker is Monrico Arries van Kanonkop as wenner aangewys, terwyl Tommi van Rooy, ook van Kanonkop, as die drywer van die jaar aangewys is.

Marius Wagener van Meerlust was die wenner in die besproeiingspesialis-afdeling, met Cameron Williams, ook van Meerlust, wat as wenner in die diereproduksie-afdeling aangewys is.

Die tegniese operateur van die jaar is Ralph Moya van Fransmanskraal en die prys vir gemeenskaps-ontwikkeling het aan Madeline Bowman van Lourensford gegaan.

Veronica Campher van Beyerskloof is as wenner van administratiewe personeel aangewys, terwyl Jan Hendriks van Kanonkop met die prys vir die voorman van die jaar weggestap het.

Die prys vir middelbestuur gaan aan Daniël Thana van Groot Constantia en Abraham Pieterse van Wines of Cordoba (T/A Taaibosch Wines) is die wenner in die afdeling vir die plaaswerker met die beste potensiaal.

Kanonkop het die prys vir die beste presterende plaas ontvang.

Ronald Jordaan van Meerlust is as junior bestuurder sowel as die landbouwerker van die jaar gekroon.Foto:

Ronald Jordaan van Meerlust is as junior bestuurder sowel as die landbouwerker van die jaar gekroon.

Jordaan het gesê hy is dankbaar vir die geleentheid om as landbouwerker van die jaar gekroon te word.

“Hierdie toekenning is te danke aan die geleenthede wat in die landbousektor is. Ek is die seun van ’n plaaswerker en my pa het ook hierdie prys gewen,” het Jordaan gesê.

Volgens hom bied die landbousektor baie geleenthede en hy spoor jongmense aan om geleenthede in hierdie sektor aan te gryp.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.