Landbouwerkers van Stellenbosch is verlede Donderdag 22 September by die Stellenbosch-streek se Prestige-landboutoekenningsgeleentheid vir hul harde werk vereer.
Die geleentheid is deur die Stellenbosse Landbougenootskap aangebied en deur die Wes-Kaapse departement van landbou en Shoprite gefinansier.
Benoemings van altesaam 14 plase is vanjaar ontvang en sluit in Beyerskloof, De Grendel, De Morgenzon, Delheim, Groenland, Groot Constantia, Klein Constantia, Hartenberg, Kanonkop, Lanzerac, Lourensford, Meerlust, Vergelegen en Taaibosch.
Noncebo Langa van Delheim is as die algehele streekwenner vir vanjaar aangewys – sy was ook die kategoriewenner in die middelvlakbestuur-afdeling.
Harriette Amos van Lanzerac het met die beste potensiaal-trofee weggestap en Delheim het ook ’n trofee vir die beste presterende plaas ontvang.
Daar was vanjaar altesaam 86 deelnemers en kontant en geskenkbewyse van R73 500 is aan kategoriewenners, naaswenners en tweede naaswenners toegeken.
Die streekwenners asook alle kategoriewenners sal op 12 Oktober op provinsiale vlak meeding teen die onderskeie wenners van die ander streke in die Wes-Kaap.
Die Stellenbosse Landbougenootskap bedank alle produsente wat ten spyte van die uitdagings en beperkings van die jaar hul werknemers benoem het en van die 2022 Prestige- landboutoekennings ’n sukses gemaak het.
Uitslae:
- Algemene Werker: Riaano Julies (Delheim);
- Drywer: Elton Thomas (Lourensford);
- Administratiewe Personeel: Enraynolene Saayman (Lourensford);
- Tegniese Operateur: Donnigan Moses (De Morgenzon);
- Besproeiingspesialis: Bulelani Mfana (De Morgenzon);
- Diereproduksie: Jay-Jay Muller (Meerlust);
- Sosiale Ontwikkeling: Elizabeth Hendricks (Delheim);
- Voorvrou: Harriette Amos (Lanzerac);
- Junior Bestuur: Courtney Abbott (Vergelegen);
- Middelvlakbestuur: Nongcebo Langa (Delheim).