Of Franschhoek en Van der Stel-Evergreens (VDE) mekaar Saterdag (24 Augustus) op die Bergzicht-sportterrein in een van twee kwarteindstryde in Superliga B gaan pak, het afgehang van gisteraand (Woensdag 21 Augustus) se uitslag tussen Kraaifontein en VDE.
Albei spanne het vir die topses gekwalifiseer, maar in watter posisie hulle gaan eindig, sal bepaal of hulle teen mekaar speel en of hulle ander teenstanders sal kry.
Soos sake nou op die punteleer staan, is Hands & Heart in die derde plek. As VDE die stryd teen Kraaifontein sou wen, eindig hulle op dieselfde punte, maar omdat VDE dan ’n beter punteverskil het, skuif VDE dan in die derde plek met ’n kwarteindstryd op die Bergzicht-sportterrein.
VDE se teenstander sal dan Hamediehs (sesde) wees, terwyl Franschhoek en Hands & Heart in Kraaifontein slaags sal raak.
Hands & Heart het Saterdag (17 Augustus) met Belhar met 23-18 afgereken en Belhar uit die topses geboender. Hamediehs het Langa met 22-19 geklop en in die sesde plek ingesluip. Kraaifontein en UWK kwalifiseer outomaties omdat hulle die eerste twee posisies beklee en wag vir die wenners van die kwarteindstryde op Saterdag 21 September.
Die formaat vir die kwarteindstryd is: die span in posisie drie speel teen die span in posisie ses, en spanne in posisies vier en vyf pak mekaar.
In Superliga C was Pniël Villagers net te goed vir Rangers en die span van die Dwarsriviervallei het met 28-25 geseëvier. Villagers se derde span is ook as die ligawenners gekroon.
In die Promosieliga het Blue Stars die onderspit teen Watsonia met 15-13 gedelf, terwyl Coronations in die Uitdaagbeker die toon aangee. Hulle het Retreat met 17-10 geklop.
Raithby Universals was ook aan die wenkant toe hulle Blackheath Polisie met 22-10 geklop het.
Excelsior se wedstryd teen Fisantekraal is uitgestel.