Op die sypaadjie voor die huis in Rowanstraat 1, Mostertsdrift, waar ons sedert 1976 vir 46 jaar gewoon het, staan twee mooi inheemse bome: ’n huilboom en ’n koraalboom.

Die huilboom (Peltophorum africanum) was reeds daar toe ons ingetrek het. Hierdie boom, wat met sy veervormige blare baie soos ’n doringboom lyk en in Engels as Weeping wattle bekend staan, het egter geen dorings nie. Ook sy pragtige drag van helder geel, trosvormige blomme wat in Januarie te sien is, lyk anders as dié van ’n doringboom.

Die huilboom kom uit die noordelike Bosveld van Suid-Afrika en kom ook verder noord in Afrika voor. Die boom in Rowanstraat is waarskynlik geplant deur prof. JFW Grosskopf, wat in 1920 as hoogleraar in staatshuishoudkunde (ekonomie) aan die Universiteit Stellenbosch aangestel is en die huis daar (met die stadsklerk, ene W. Blerch as argitek) gebou net. Hy het in die natuurlewe belanggestel en in 1922 ’n maand lank deur Oos-Afrika saam met Sangiro getoer.

In die natuur is hierdie boomsoort die gasheer van groot getalle skuimbesies (Eng.: spittle bugs) wat die boomsap uitsuig, die voedingstowwe daarin onttrek en die res as ’n helder vloeistof wat op die grond drup, uitskei – vandaar die naam huilboom.

Naby die hekkie van die huis staan ’n ander groot inheemse boom, nl. ’n kuskoraalboom (Erythrina caffra). Toe ons destyds ingetrek het, was daar reeds ’n groot ou koraalboom – só oud dat ’n inham in die teerstraat gemaak is om vir hom plek te maak.

Die boom het ongeveer tien jaar nadat ons daar gewoon het van binne begin verrot en gevrek, en die reste is verwyder. Kort daarna het ek eendag tot my verbasing ’n jong koraalboompie gesien, wat in die tuin opgeslaan het – die enigste nog. Ek het hom in sy ma-ouer se plek geplant en vandag is dit weer ’n groot boom.

Kenmerkend van hierdie boomsoort is sy skarlakenrooi blomme wat voor die blare in die lente verskyn en baie aantreklik vir suikerbekkies is. Die peule dra pragtige rooi sade met ’n swart stippel waar dit aangeheg is. Dit kom van die suid-oostelike kusstrook van Suid-Afrika.

You need to be Logged In to leave a comment.