Lanquedoc kry ’n dubbelbaanbrug

Die Stellenbosch-munisipaliteit sal oor die volgende 12 maande ’n R50-miljoen-projek aanpak vir die opgradering van die ingangsroete na Lanquedoc tussen Franschhoek en Pniël, wat ook die oprigting van ’n groter brug met twee bane insluit.


Die Stellenbosch-munisipaliteit sal oor die volgende 12 maande ’n R50-miljoen-projek aanpak vir die opgradering van die ingangsroete na Lanquedoc tussen Franschhoek en Pniël, wat ook die oprigting van ’n groter brug met twee bane insluit.

Die behoefte vir hierdie projek is geïdentifiseer in vorige vervoerbeplanningstudies en is deel van die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP), het die munisipale woordvoerder Stuart Grobbelaar by navraag gesê.

“Die bestaande brug, tans ’n enkelbaanstruktuur, beperk verkeersvloei. Die nuwe brug, ontwerp as ’n dubbelbaan, sal verkeersvloei verbeter, veiligheid verhoog en beter dienste aan inwoners lewer,” het Grobbelaar gesê.

Hy sê daarbenewens sal nuwe en opgeknapte wandelpaaie gebou word om die Lanquedoc-gemeenskap met Hoofweg te verbind. Volgens Grobbelaar sal die bouwerk, wat eersdaags begin, nie die vloei van verkeer beïnvloed nie. “Gedurende die [oprigting van en bouwerk aan] die nuwe brug, sypaadjies en wandelpaaie sal verkeer op die bestaande brug geakkommodeer word.”

Hy het verder verduidelik die totale projekkoste is sowat R50 miljoen. Bou­werk sal na verwagting 12 maande duur.

Jonny Scheepers, ’n gemeenskapsleier in Lanquedoc, het die projek verwelkom en gesê die nuwe brug gaan veral vir die plaaslike gemeenskap voordelig wees.

“Dit is soggens en saans tydens spitstyd chaoties by daai brug. Dit is boonop die enigste ingangsroete na Lanquedoc, dus dink ek die breër gemeenskap is baie dankbaar vir hierdie projek. Die pad, soos wat dit tans is, is ’n veiligheidsrisiko vir motoriste en voetgangers – veral leerders wat na Pniël stap. Sypaadjies gaan ook aangebring word, wat die pad oor die algemeen veiliger gaan maak.

“Ek kan nie onthou dat ’n verkeers­beampte al ooit daar was wat gehelp het om verkeer te reël nie. Ons is dankbaar dat die plaaslike regering uiteindelik die nood vir ’n groter brug besef het.”

Scheepers sê die projek sal na verwag­ting tussen 20 en 30 korttermyn werks­geleenthede skep. “Dit is nou nie ’n multi­miljardrand-projek waar ’n klomp werksgeleenthede geskep gaan word nie, maar dis darem 20 tot 30 mense wat vir so bietjie meer as ’n jaar werk gaan hê,” het hy gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.