“Ou vraestelle is alles” sê Gabby Smuts, Hoër Meisieskool Bloemhof se dux-leerder en toppresteerder van verlede jaar se matriekklas.
Gabby het ’n gemiddelde van 95,8% met, onder meer, 97% in Afrikaans, 98% in Wiskunde en 100% in Visuele Kuns behaal.
“Ek was ontsettend verbaas toe ek gehoor het dat ek die toppresteerder is. Ek het nie eers my gemiddelde gehoor nie, net dat ek eerste in die graad is.”
Sy was effens senuagtig oor die Wiskunde vraestel gewees omdat sy al soveel keer in die koerante gelees het dat dit elke jaar moeiliker word.
“Waaroor ek eintlik nog meer senuagtig was, was dat ek die einde van 12 jaar op skool bereik het. Nadat ek die eerste paar vakke geskryf het, het ek rustiger geraak.”
Sy sê die geheime bestanddeel wat haar uitstekende uitslae verseker het, was om teen September al klaar geleer te wees en net hersiening vir die eindeksamen te doen.
“Dit is die raad wat ek vir vanjaar se matrieks ook sal gee. Begin betyds leer sodat jy later net hersiening kan doen en ou vraestelle kan uitwerk. Matriek is so ’n kort jaar, ,jy kan net sowel alles 100% doen.”
Gabby is nie die enigste slimkop in haar gesin nie. Sy volg in haar suster, Marina, se voetspore. Dié was in 2015 die dux-leerder by Bloemhof.
“My ouers het nie verwag dat ek ook ’n dux-leerder sou wees nie. Hulle is baie nederig oor ons prestasies.”
Vanjaar gaan sy BSc-rekenaarwetenskappe aan Universiteit Stellenbosch studeer, wat nie net haar liefde vir Wiskunde gaan inkorporeer nie maar ook in staat stel om aan die voorpunt van nuwe tegnologie te wees.
“Ek het besluit om iets te doen wat my toelaat om in ’n aantal verskillende velde betrokke te wees. Daar is mos nie ’n maatskappy in die wêreld wat nie vandag met rekenaars werk nie!”
Alhoewel sy later seker die sorgeloosheid van haar skooldae sal mis, is die spesiale herinneringe wat saam met haar skoolvriendinne gemaak is die ding wat nou aan haar hartsnare pluk.
“Ek gaan al die mense en die skoolgees vreeslik mis. Ek was elke dag omring deur mense wat my geïnspireer het om ’n beter mens te wees.”