Anaïs Herman en Kaela de Villiers, twee graad 11-leerders aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, het vanjaar aan vakkompetisies deelgeneem en na die eindrondes deurgedring.
Anaïs het aan die begin van 2020 besluit om rekenaartoepassingstegnologie (RTT) as vak te neem en kans gesien om aan die RTT-olimpiade deel te neem.
Nie net het sy die eerste ronde maklik geslaag nie, maar in die tweede ronde onder die topdrie-deelnemers in die Wes-Kaap geëindig en het die afgelope naweek aan die nasionale eindronde deelgeneem.
“Dit was baie moeiliker as wat ek gedink het dit gaan wees,” sê Anaïs, wat een van slegs 11 deelnemers in die eindronde was.
“Ten spyte van die uitdaging het sy ’n bronsmedalje verower nadat sy nasionaal in die topses en eerste in die Wes-Kaap geëindig het.
Kaela het vanjaar vir Die Burger se wiskundekompetisie ingeskryf en op 29 Mei aan ’n aanlyn uitdunronde deelgeneem.
Die eindronde, op 31 Julie, was ook aanlyn, maar is via die videokonferensiediens Zoom gedoen. “Dit was glad nie soos die tipiese wiskunde wat ons in die klas doen nie en ’n mens moes behoorlik dink voor jy antwoord,” sê Kaela wat onder die top-20-deelnemers geëindig het.
“Wiskunde is ’n goeie vak om te neem, want dit leer jou hoe om buite die boks te dink, nuwe invalshoeke raak te sien en probleme stapsgewys op te los,” meen sy.