AfriForum se Dink of Sink-span het op Vrydag 23 Mei die derde van ses provinsiale uitdunrondes vir hoërskooldebatteerders by die Hoërskool DF Malan in Bellville aangebied.

Die Dink of Sink-kompetisie vir onvoorbereide debat vir hoërskoolleerders bied

belowende jong debatvoerders die kans om hul vaardighede op die proef te stel. Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit hulle ook ‘n noodsaaklike vaardigheid leer wat deelnemers in hul toekomstige beroepslewe kan bevoordeel.

Altesaam 195 leerders van 15 hoërskole in die Wes-Kaap het aan die kompetisie deelgeneem – die hoërskole DF Malan en Stellenberg, die Hoër Meisieskool Paarl en die Hoër Jongenskool Paarl, die Hoër Meisieskool La Rochelle, die hoërskole Parel Vallei, Jan van Riebeeck, Strand, Swartland en Langenhoven, Worcester Gimnasium, Paul Roos Gimnasium, die Hoër Meisieskool Bloemhof, Paarl Gimnasium en die Hoërskool Durbanville.

Gedurende die dag het die 65 spanne elk drie debatte oor verskeie aktuele onderwerpe in hul verwysingsraamwerk gevoer.

Senior naaswenners: Nicolene Müller (AfriForum – koördineerder vir onderwys: suidstreek) met Delinda Quinot, Gabbi Spammer en Mieke Jonker van die Hoër Meisieskool Bloemhof.

“Die leerders het hul take met groot vaardigheid aangepak en met goed gestruktureerde, deeglik voorbereide argumente en kragtige teen- argumente beïndruk,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir onderwys in die suidstreek.

“Hulle het selfvertroue deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ‘n opregte entoesiasme vir hul standpunte uitgestraal. Hierdie optrede het hul vermoë om krities te dink en doeltreffend debat te voer, duidelik na vore gebring.”

In die junior afdeling vir gr. 8- en gr. 9-leerders het Paul Roos Gimnasium se Retief Ferreira, Lian Winckler en Paul du Plessis koning gekraai terwyl die Hoër Meisieskool Paarl se Emma Kriek, Margelie Hansen en Kara Wentzel as die naaswenners aangewys is.

In die senior afdeling (grade 10, 11 en 12) het die Hoërskool Durbanville se Melandi Nabal, Islah Vorster en Tiaan Bierman die goue trofee huis toe geneem, terwyl die Hoër Meisieskool Bloemhof se Mieke Jonker, Gabbi Spammer en Delinda Quinot as die naaswenners aangewys is.

Die span van Paul Roos Gimnasium is die wenners van die junior afdeling. Van links is Nicolene Müller (AfriForum), Retief Ferreira, Lian Winckler en Paul du Plessis.

You need to be Logged In to leave a comment.