Vyf gr.10-leerders van Lückhoff Sekondêr in Stellenbosch is tot 7 Maart geskors en sal nou berading ontvang nadat hulle verlede Donderdag 24 Februarie in ’n tugverhoor skuldig bevind is aan die besit en gebruik van alkohol op die skoolterrein.

Dit kom ná ’n video waarin hulle (die leerders) alkohol op die skoolterrein gebruik op sosiale media versprei is. Die video is na verneem word Maandag 14 Februarie op die skoolterrein geneem.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het dit bevestig en gesê die leerders moet deelneem aan berading en ander aktiwiteite wat negatiewe gedrag en dwelmmisbruik aanpak.

“Die skool het met die WKOD-distriksmaatskaplike werker geskakel oor toekomstige intervensies vir die skool en die betrokke leerders. Hulle het ook die hulp van Community Keepers, ’n plaaslike nieregeringsorganisasie wat ’n groep beraders en sielkundiges insluit, ingeroep,” het Bronagh Hammond, WKOD-woordvoerder, gesê. “Ons hoop van harte dat hierdie en ander leerders iets positiefs uit dié voorval / ervaring geleer het en dit ook as ’n afskrikmiddel vir ander leerders sal dien.”

Sy voeg by die WKOD as departement is verantwoordelik vir onderrig en leer, en alkohol- en dwelmmisbruik is duidelik uiteengesit, ook in die Lewensvaardighede en Lewensoriëntering-vakke.

You need to be Logged In to leave a comment.