Die lot van vyf graad 10-leerders by Lückhoff Sekondêr in Stellenbosch word volgende week in ’n tugverhoor bepaal nadat ’n video waarin hulle (die leerders) alkohol op skoolterrein gebruik wyd op sosiale media versprei is.
Hulle was ook glo in die besit van dwelms.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het die voorval by monde van ’n woordvoerder Milicent Merton bevestig en gesê die leerders is geskors hangende ‘n dissiplinêre verhoor. “Alkohol is ’n verbode middel in skole,” het sy bygevoeg.
In die video kan duidelik gesien word hoe die leerders tydens skoolure in hul skooluniforms op die skoolterrein gesellig raak. Een van die dogters in die video skink ook ‘n bier uit ’n Castle Light-bottel.
Daar kan ook duidelik gehoor word hoe een van die leerders sê: “Ons het ‘entjies’ en dagga en everything.” Die leerder wat die bier skink, gebruik ook krutaal in die video wat slegs 13 sekondes lank is.
Die video is na vertroulik verneem Maandag 14 Februarie op die skoolterrein geneem.