Die Eikestad se graad 11- en 12-leerders kan nou ’n gratis vertoning by die Drostdy Teater op Stellenbosch bywoon.
Die projek, Teater Open Nuwe Wêrelde / Theatre Opens New Worlds, ter viering van die Drostdy Teater se tweede bestaansjaar, is pas van stapel gestuur. Leerders word genooi om vanaf 1 April ’n produksie (drama of musiek) gratis by hierdie intieme teater te kom geniet.
“Om vir ’n gratis kaartjie te kwalifiseer moet leerders bereid wees om ná die vertoning oor hul ervaring te skryf,” sê Ingrid Howard, uitvoerende direkteur en eienaar van die teater wat in die Drostdy-sentrum op die hoek van Alexander- en Birdstraat geleë is.
Howard noem dat die teater sy leuse gestand wil doen en ook leerders help om te droom en saam met ander teatergangers die onbekende te ontdek.
“Vir baie leerders is die skoolkonsert die enigste geleentheid om aan ’n teaterproduksie bekendgestel te word en vir sommige skole is ’n jaarlikse skoolkonsert ook nie altyd haalbaar nie. Teater, in al sy vorme, gee aan leerders die geleentheid om na ander mense se stories te luister en ’n kans om ander wêrelde te ervaar,” sê Howard.
In die Stellenbosch-area is daar reeds nege skole genader om aan die projek deel te neem.
Drie leerders het reeds op die uitnodiging gereageer.
Francois van Zyl en Urs de Swardt van Paul Roos Gimnasium en Shiloh Buss van Hoër Meisieskool Rhenish het die produksie Vier Seisoene Twee Kontinente (met Belgiese kunstenaar Hannelore Bedert en Suid-Afrikaanse kunstenaars Gloria Bosman, Hilandi du Toit en Matthys Maree) op 1 April bygewoon.
“Ons generasie ken nie die wondere van intieme teater en die atmosfeer wat dit vir die kunstenaar en gehoor bied nie. In só ’n spasie deel kunstenaars hulle alles, vir jou voordeel,” sê Buss.
Die leerders het ook genoem dat hulle voel die veldtog en die teater ’n baie belangrike kontras en ervaring teenoor die normale televisievermaak bied.
Leerders wat aan die projek deelneem skryf oor hul ervaring van die produksie en die teater. Dit sal dan op die teater se webtuiste (www.drostdyteater.co.za) en sosiale-mediablaaie geplaas word.
Take a child to theatre-dag is wêreldwyd op 20 Maart gevier en die teater se bestuurspan hoop om die positiewe invloed van die spesiale dag regdeur die jaar voort te sit.
“Ons sien baie uit na die res van die veldtog en hoe dit gaan ontwikkel. Ons hoop om jong leerders se lewenservarings en -kennis te verbreed deur stories en musiek”, sê teaterbestuurder Lionel Middleton.
Ondernemings wat deel wil word of ’n bydrae wil maak, of skole en leerders wat wil aansoek doen, kan vir Stefan Joubert by 2 stefan@drostdyteater.co.za en 0 083 882 4974 kontak.