Weke lange bespiegeling oor of leerders en onderwysers wel hul Oktober-vakansie kan gaan geniet, is uiteindelik verby – daar gaan wel ’n vakansie wees.
Dit volg nadat die nasionale minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, Sondag (29 Augustus) aangekondig het dat daar aanstaande maand ’n vakansie gaan wees.
“Ná konsultasies met die betrokke partye is besluit dat daar wel ’n Oktobervakansie gaan wees. Ons het die distrik en skole ook instruksie gegee dat hulle ook kan besluit waar hulle verlore dae gaan inhaal,” het Motshekga gesê.
Die minister het verder uitgebrei en genoem dat daar nou hard gewerk moet word sodat geen verdere onderbrekings by skole plaasvind nie. Wetenskaplike navorsing noem dat kinders minder vatbaar vir Covid-19 is, maar dit beteken egter nie hulle is heeltemal immuun teen die virus nie.
Skole oor die land heen het verlede jaar 54% van die skooljaar verloor en in 2021 is 50% van die skooljaar reeds weens Covid-19 verloor.
Eikestadnuus het verlede week berig oor die bekommernis wat tans heers oor stygende gevalle by skole “Ál meer C-19 by skole”, 26 Augustus).
Daar is ’n beroep op ouers, onderwysers en leerders gedoen om steeds verantwoordelik op te tree.
In die laaste maand het minstens vier plaaslike skole gesluit weens positiewe Covid-19-gevalle wat aangemeld is.