Die Hoër Meisieskool Bloemhof se graad 11-leerders het Maandag (6 Julie) teruggekeer skool toe nadat hulle in Maart vanjaar laas in die klaskamer was.
Die graad 10’s is Dinsdag verwelkom.
Graad 12-leerders het elke dag van die week ’n kontaksessie met onderwysers, terwyl graad 10’s en 11’s drie keer per week fisiek in die klas sal wees.
“Die terugkeer van hierdie leerders het baie glad verloop, deels omdat die skool se protokol gereed was, maar ook omdat die leerders en ouers ’n baie positiewe gesindheid het en by die nuwe werklikheid inkoop,” sê Leon Piron, ’n lid van die skool se Covid-19-veiligheidskomitee.
Na verwagting sal die graad 8’s en graad 9’s in die week van 3 tot 7 Augustus terugkeer, maar slegs twee dae per week kontak met onderwysers hê. Wanneer alle leerders terug is, sal drie grade gelyktydig by die skool wees om die nodige veilige afstand in die klaskamers te kan handhaaf.