Die Noord-Kaap het Saterdag 20 Oktober nege wenners in die eindronde van Sanlam se WOW-spelfees (Woorde Open Wêrelde) opgelewer. Agt uit die 30 wenners is van die Wes-Kaap.
Vir Afrikaans-huistaal word dié nasionale spelkompetisie van graad 1 tot 10 aangebied. Die algehele wenners in grade 3, 5, 7 en 9 was almal Noord-Kapenaars.
Meer as 300 leerders van 129 skole het Saterdag in die eindronde deelgeneem. Die finaliste het deurgedring in ’n reeksuitdunne wat gedurende die jaar oor die hele land heen aangebied is.
Meer as 6 000 kinders het van skool-, kring-, distrik- en provinsiale vlak deelgeneem.
Wenners het elkeen ’n kontantprys, medalje van Sanlam en ’n balkie vir hul skoolbaadjies ontvang, asook ’n boekprys van NB-uitgewers. Die eersteplekwenners het daarmee saam elkeen ’n slimfoon of tablet gekry. Benewens Sanlam wat die hoofborg is, sluit ander borge in: Universiteit Stellenbosch, kykNET, TAO (Trust vir Afrikaanse Onderwys), Het Jan Marais Nasionale Fonds en die Millennium Trust.
“Die WOW-spelfees hou aan groei en groei,” het ’n opgewonde Fiona van Kerwel, projekbestuurder van WOW, gesê. “Dis die sewende jaar dat ons ’n nasionale kompetisie aangebied het en die standaard sowel as die moeilikheidsgraad neem saam met die aantal deelnemende skole toe.”