Daar heers deesdae kalmte in die Hoërskool Cloetesville nadat die skoolhoof, Dorian Meyer, op 13 Maart ’n ope brief op die skool se Facebook-blad en WhatsApp-groepe geskryf het.
In die brief vermaan hy die ouers en leerders van sy skool oor die gebrek aan dissipline en het die skool se “zero tolerance”-standpunt vorentoe aangekondig.
Volgens die skoolvoorsitter en opvoederverteenwoordiger in die skoolbeheerliggaam, Solomon Nkanyane, het daar ’n rustigheid en kalmte by die leerders ingetree nadat die brief versprei is. “Die brief het daartoe gelei dat opvoeders meer bemagtig gevoel het om te help om die dissipline te versterk,” het hy gesê.
“Ons beoog om ons dissiplinêre maatreëls volgende kwartaal nog meer op te skerp, maar hopelik het verstand geseëvier en sou ouers met hul kinders gepraat het,” het Meyer gesê.
Die breekpunt vir Meyer om die brief te skryf was toe ’n skoolseun ’n “afgryslike” opmerking teenoor ’n onderwyseres gemaak het. “Ek is fanaties teen die mishandeling van vroue en ek doen alles in my vermoë om veral die skoolmeisies en onderwyseresse teen verbale mishandeling en enige soort teistering te beskerm,” het Meyer gesê.
Volgens hom het alles verander toe al die leerders “skielik” terug by die skool toegelaat is. “Leerders en opvoeders het gesukkel om aan te pas, vandaar die dissipline-probleme wat toegeneem het. Die leerders het egter ná ’n paar weke genoeg tyd gehad om aan te pas, en baie het nie, vandaar die brief,” het hy bygevoeg.
Meyer het in sy brief genoem dat hy nie sal skroom om groot getalle leerders te skors as die probleem voortduur nie, maar hy het gesê dit was “gelukkig” nog nie nodig nie.
“Ons sal egter nie huiwer totdat daar algehele orde en ’n atmosfeer is wat bevorderlik is vir behoorlike leer nie,” het hy gesê.
Volgens Meyer ondersteun die skool se opvoeders sy inisiatief en baie het aan hom genoem dat hulle waardeer wat by die skool gedoen word om hulle en leerders terselfdertyd te beskerm. “Ek wil glo dat die ouers heelhartig saamstem om ’n gedissiplineerde omgewing te hê, want baie van ons leerders toon goeie gedrag en probeer hul bes om te presteer ten spyte van hul persoonlike omstandighede,” het hy gesê.