Tien dae van woeker deur die leerders van die Hoërskool Stellenbosch het uiteindelik in 1 197 blikkies kos geëindig.
Dié hoërskool se gemeenskapskomitee het onlangs besluit om die skool uit te daag om hand by te sit vir die Carmen Stevens-stigting. Dié stigting is in 2011 deur die wynmaker Carmen Stevens begin en help daagliks om honger magies te voed en kospakkies aan minderbevoorregte gesinne te skenk.
Elke graad is uitgedaag om ’n spesifiek soort blikkie te skenk.
Leerders het alles van vis tot boontjies ingesamel, met een van die gr. 9-klasse wat 136 blikkies geïn het.
“Dit is ongelooflik om te dink hoeveel blikkies ons, as ’n kleiner skool, kon insamel. Ek is seker indien ander skole in die dorp dieselfde doen, ons duisende blikkies kan insamel om ander te help, sê Robyn Bleach, voorsitter van die gemeenskapskomitee.
Die leerders het die blikkieskos verlede Woensdag amptelik aan Stevens en Celine da Camara van die stigting oorhandig.
Die blikkies, ter waarde van sowat R20 000, sal saam met ander kruideniersware in pakkies opgemaak word.
Stevens, die dryfveer agter Carmen Stevens Wines, het die leerders bedank vir hul skenking om diegene wat dit die nodigste het, te help. Stevens sê sy was aangenaam verras met net hoeveel blikkies die skool ingesamel het.