Alet Hitge en Janke Marais, gr. 10-leerders aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, het in die onlangse SA Taalbond-eksamen uitstekend gevaar. Alet het ’n nasionale eerste plek in die tweetaligheidseksamen se afdeling vir gr.8- tot gr. 10 behaal, en Janke het in die agtste plek geëindig. Die SA Taalbond is ’n organisasie wat elke jaar sedert 1953 ’n tweetaligheidseksamen (Afrikaans en Engels) vir hoërskoolleerders aanbied. Die eksamen bestaan uit ’n vraestel in Engels en een in Afrikaans vir seniors (gr. 11 en gr. 12) en ’n vraestel vir juniors (gr. 8 tot gr. 10). Buiten die aantreklike pryse wat aan toppresteerders in hierdie eksamen deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns geborg word, doen leerders ook uitstekende ondervinding op in die beantwoording van eksterne vraestelle. Kandidate wat die eksamen suksesvol afgelê het, ontvang ’n sertifikaat met ’n simbool wat die graad van tweetaligheid aandui.