Danielle Verné Louw en Mia Fourie, twee matrikulante aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, het Dinsdagaand met die twee gesogste pryse by die skool se jaarlikse prysuitdeling weggestap, naamlik die Elize Coetzee- en die Bloemhofbondprys.
Danielle is die wenner van die Elize Coetzee-prys wat ’n studiebeurs van R20 000 insluit en na ’n voormalige skoolhoof genoem is. Dié prys is deur wyle dr. en mev. Anton Rupert geskenk.
Dit word jaarliks aan ’n leerder toegeken wat buiten ongewone akademiese prestasie ook ’n goeie leier is en met goeie inbors, lojaliteit en inisiatief optree.
Mia het vanjaar die Bloemhofbond-prys gewen. Dit gaan aan ’n leerder wat entoesiasme vir die skool se tradisies toon, ’n aktiewe rol in die skool speel, haar klasmaats aanmoedig om by skoolgeleenthede betrokke te raak en die Bloemhofwaardes van omgee, werksetiek, afgerondheid, respek en integriteit uitleef.
Die prys bestaan uit ’n wisseltrofee, ’n silwer armband en ere-lidmaatskap van die Bloemhofbond en is vanjaar die 29ste keer toegeken.
Mia was een van agt Bloemhoffers wat vanjaar deur haar klasmaats vir dié prys benoem is en met wie formele onderhoude gevoer is.
Die paneel het vanjaar uit die oud-Bloemhoffers Hette-Lize Marshall, Nelize Jacobs, Antoinette Bruwer, Jacomien Bekker, Santie Bredenhand en die graad 12-hoof, Louise Joubert, bestaan.
Dit is vanjaar ook die eerste keer in die geskiedenis dat dié prys aan die suster van ’n vorige wenner toegeken word, aangesien Mia se suster, Linmari Matthee, in 2016 die wenner was.
Dit was ook die eerste keer dat ’n paneellid haar as gevolg van ’n familieverbintenis met ’n finalis moes onttrek.
“Mia leef die waardes van die Hoër Meisieskool Bloemhof opreg uit,” sê Maryna de Waal, die Bloemhofbond se skakelpersoon wat toesig oor die proses gehou het.
“Haar passie, omgee en aktiewe betrokkenheid by die skool en leerders maak haar ’n waardige wenner. Sy beskik oor die vermoë om oudleerders se band met die skool en met mekaar te bou. Haar lojaliteit en entoesiasme sal die waardes, tradisies en kultuurgoedere van die skool koester en laat voortleef. Dit is voorwaar ’n pluimpie vir die Fourie/Matthee-gesin.”