Die Hoërskool Stellenbosch het dit die tweede keer reggekry om as die wenner van die Klein Libertasteater se Tienertoneelfees gekroon te word.
Die skool se produksie, Die huis van Bernard Albertyn, is Vrydagaand 10 Augustus as die beste produksie by vanjaar se fees aangewys. Hulle het ook in 2010 met die wisseltrofee vir beste produksie van die fees weggestap.
Die teks, wat deur Alma Nel geskryf is, is as beste nuwe Afrikaanse teks by die fees aangewys. Stellies het ook met die volgende trofeë by die prysuitdeling weggestap: Andrea Winckler vir beste regisseur, Janke Mostert vir beste ondersteunende aktrise en Benji Heyns vir beste klankversorging.
Die fees wat van 6 tot 10 Augustus in die HB Thom-teater aangebied is, was die 14de tienertoneelfees wat die Klein Libertasteater aangebied het.
Die beoordelaars by vanjaar se toneelfees was Elsabé Daneel, Ira Blanckenberg en Ivan Abrahams.
“Die ATKV moedig skole op sy webblad aan om ook vir die Klein Libertasteater se tienertoneelfees in te skryf omdat die deeglike terugvoering van die beoordelaars help met die afronding van die produksies voor hul deelname aan die ATKV se toneelkompetisie,” sê Carien Punt van die teater.
Die wenners van die ander trofeë was soos volg:
V Beste beligtingsversorging: Charl Human (Hoërskool Durbanville)
V Beste ondersteunende akteur: Jaden Philander (Hoërskool Bernadino Heights)
V Beste aktrise: Alexa le Roux (Hoërskool Durbanville)
V Beste akteur: Danté Barnard (Hoërskool Tygerberg)
V Mees belowende aktrise: Kersha Titus (Hoërskool Tygerberg)
V Mees belowende akteur: Eljay Galant (Hoërskool Tygerberg)