Leeroy Chakanyuka onthou hoe hy as gr. 4-leerder sy geskiedenishandboek in ’n dag klaar gelees het en in gr. 5 sy wiskunde vooruit gedoen het sodat hy in die klas kon sit en lees terwyl sy klasmaats wiskundesomme uitwerk.
Lees het Leeroy, die topmatrikulant van die Hoërskool Franschhoek, se aanpassing in Suid-Afrika vergemaklik nadat hy op sewejarige ouderdom met sy gesin se verhuising van ’n Shona-skool in Zimbabwe na ’n Engelse skool in Franschhoek moes skuif.
“Lees was nog altyd my grootste ontsnapping,” sê hy.
Dié 18-jarige is Maandag 5 Februarie tydens die jaarlikse Toppresteerders-prysuitdeling van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) by Rhenish Girls’ High School vereer. Hy het die spesiale burgemeesterstoekenning vir die mees veerkragtige leerder in die distrik ontvang. Dié eer word toegeken aan ’n leerder wat ’n buitengewone prestasie ten spyte van uitdagende omstandighede lewer.
Die wonder van lees
“Ek is in Zimbabwe gebore, maar my gesin moes ’n paar jaar later na Suid-Afrika verhuis,” vertel Leeroy.
Hy het in Johannesburg leer isiXhosa praat. “Ek het daardie tyd baie Xhosa-vriende gehad, maar my Xhosa is nou ’n bietjie geroes,” sê hy.
As gevolg van omstandighede buite die gesin se beheer, moes Leeroy se familie in 2011 noodgedwonge terugtrek Zimbabwe toe.
“My pa het ses maande later teruggetrek SA toe en my ma het hom kort daarna gevolg.”
Leeroy het daarna vir ’n tyd by familie in Zimbabwe gebly. Sy ouers wou egter self hul seun grootmaak en toe hulle kon, het hulle geld Zimbabwe toe gestuur sodat Leeroy in SA by hulle kon aansluit.
“Ek het graad 2 hier in SA begin, maar die aanpassing was vir my baie moeilik en dit het beteken dat ek my gr. 2-jaar moes herhaal,” onthou Leeroy.
Dit was egter in hierdie uitdagende jaar wat Leeroy die krag van lees agtergekom en dié aktiwiteit as ’n manier om te ontsnap, begin gebruik het.
“Ek het al die boeke in my juffrou se klas gelees.”
Toe hy besef dat hy al die gr. 2-boeke klaar gelees het, het hy maar met die volgende jaar se leesboeke begin.
“Ek moes iets doen om ’n ontsnapping te vind,” sê hy.
Daardie agtjarige seuntjie het grootgeword en vandag is hy die topmatrikulant van die Hoërskool Franschhoek se matriekklas van 2023.
Ingenieurswese roep
“Leeroy het uitdagings met taalhindernisse en aanpassing ervaar toe hy in sy vormingsjare tussen Suid-Afrika en Zimbabwe verhuis het,” lui ’n verklaring van die KWDM.
“Hy het teen graad 4 Engels bemeester en akademies uitgeblink, aangedryf deur sy groot begeerte vir ’n beter toekoms.”
Ten spyte van erge terugslae het hy in die 2023- Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen vier vakonderskeidings en ’n gemiddelde van 79% behaal.
“Sy prestasie is ’n bewys van sy vasberadenheid en veerkragtigheid.
“Die toekenning [wat hy ontvang het] is hoogs verdienstelik vir buitengewone prestasie, ongeag uitdagende omstandighede.”
Leeroy gaan vanjaar ingenieurswese aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) studeer.