Ná byna 10 jaar uit druk is die immergewilde Harry Potter-boekereeks uiteindelik op oorweldigende aanvraag terug in Afrikaans.
Sedert die eerste Harry Potter-boek in 2000 in Afrikaans verskyn het, is daar meer as 110 000 eksemplare van die reeks in Afrikaans verkoop. Boek een tot vyf is destyds deur Janie Oosthuysen vertaal, terwyl boek ses en sewe deur Kobus Geldenhuys vertaal is. Sedert 2013 is die boeke egter uit druk.
NB Uitgewers het oor die afgelope paar jaar al hoe meer navrae begin ontvang van lesers, boekwinkels en biblioteke wat die reeks in Afrikaans soek.
Nelleke de Jager, fiksie-uitgewer en ma, sê: “Ons kan nie wág vir die jongste Afrikaanse uitgawes van J.K. Rowling se topverkoperreeks nie. Dit sal beslis ook bo aan ons geskenklys vir maatjies wees. Daar’s ’n hele nuwe generasie boekwurms op wie ure en ure se leesplesier wag!”
In 2022 het die eerste Harry Potter-boek, Harry Potter and the Philosopher’s Stone, sy 25ste bestaansjaar gevier. Duidelik was daar wêreldwyd nuwe belangstelling by jong lesers om die boeke te lees. In Suid-Afrika het boekwinkels toenemend navrae begin kry van klante wat graag die reeks in Afrikaans wil koop.
Opgewonde leser, Willemien Brümmer, sê: Dis die beste nuus in jare dat julle weer die Harry Potter-reeks in Afrikaans gaan uitgee. Ek en my agtjarige seuntjie Matthias het jare spandeer om die volledige reeks in Afrikaans te bekom.” Dié twee meen dat “min ander boeke nog by hierdie reeks kon kom”.
NB Uitgewers maak dus met trots bekend dat al sewe boeke in die reeks weer in 2024 in Afrikaans verkrygbaar sal wees. Deel van die hernude ooreenkoms met J.K. Rowling se agent in die Verenigde Koninkryk is die gebruik van die nuutste omslagontwerpe deur Jonny Duddle. Hierdie nuwe uitgawes met hulle splinternuwe baadjies gaan beslis die koppe laat draai.
Geldenhuys verwys na die Afrikaanse publikasies as “ ’n groot voorreg en vreugde” en hy is bly jong lesers kan nou ná 10 jaar in hierdie nuwe uitgawe weer by platform 9¾ op die trein klim om Hogwarts se towerwêreld te beleef.
Human & Rousseau se uitgewer van kinder- en jeugboeke, Simone Hough, sê: “Beide Janie en Kobus het destyds ongelooflike werk met hierdie komplekse en lywige vertalings gedoen. Die verhale lees nét so lekker in Afrikaans as in Engels, sonder ’n enkele haakplek. Op ’n manier is dit selfs beter want jy lees dit in jou huistaal en word totaal oorrompel deur hierdie magiese wêreld!
“Al werk wat ons nou aan die tekste doen, is om die vertalings liggies te hersien om name en titels oral konsekwent te maak. Dit word gedoen om aan te pas by hedendaagse tendense in die vertaalpraktyk, asook die feit dat hierdie handelsmerk en karakters sedertdien wêreldberoemd geword het. Dumbledore is byvoorbeeld nou in ál sewe boeke Dumbledore, eerder as Dompledorius; Hermione is nou Hermione en nie Hermien nie; ensovoorts. Terwyl ek hieraan werk word ek van voor af betower deur J.K. Rowling. Wat ’n voorreg om dit weer die lig te laat sien en boonop in sulke móói Afrikaans.”
Die eerste boek in die reeks, Harry Potter en die Towenaar se Steen, sal Vrydag 19 April die winkelrakke tref. Daarna sal daar elke maand tot Oktober ’n nuwe Harry Potter-boek wees om na uit te sien.