Die Hoër Meisieskool Bloemhof se nuutverkose huisleiers is reg om nuwe lewe in die skool te blaas.
Huisleiers word, nes die VRL, deur die leerders gekies en dien eers as dirigente vir Bloemhof se drie huise en later as die rasieleiers by die groot sportgeleenthede soos die 4M-atletiekbyeenkoms en die jaarlikse interskole teen die Meisieskool Oranje.
“Ons missie vir 2018-’19 is om voort te bou op die goeie gees wat reeds in die skool bestaan,” sê Mieke Deyzel, Hofmeyr se nuutverkose huiskaptein. Esteé van Heerden, huiskaptein van Neethling, beaam dit: “En nie net by groot byeenkomste soos die 4M, die interhuis en interskole nie, maar deur die jaar.”
Joubert se huiskaptein, Ingerése Keuzenkamp, erken sy het al in graad 8 besluit sy wil eendag ’n huisleier wees. “Ek wou al van toe af met my hele hart een word. Dit was een van my drome en ek voel baie geëerd om die Lucie Joubert-span te verteenwoordig.”
Die drie huise is genoem na drie groot geeste in die geskiedenis van die Hoër Meisieskool Bloemhof: Die stigters prof. Nicolaas Jacobus Hofmeyr en ds. Johannes Henoch Neethling en Bloemhof se eerste Afrikaanse skoolhoof, Lucie Joubert.
“Ek sien ongelooflik uit na die jaar en ek glo ons as huisleiers gaan ’n groot verskil in Bloemhof maak,” sê Ingerése.
Maar om ’n huisleier te wees, is nie net pret en plesier nie. Dit behels ook harde werk, iets waarvoor hulle reg is.
“Gees skep eenheid in die skool,” meen Esteé. “En omdat eenheid nog altyd vir Bloemhof belangrik was, het ons ’n gróót verantwoordelikheid.”
Die huisleiers vir 2018-’19 is soos volg:
. Huis Hofmeyr: Mieke Deyzel (huiskaptein), Anmar Branden en Mila Aggenbach.
. Huis Joubert: Ingerése Keuzenkamp (huiskaptein), Denike le Roux en Marguerite le Roux.
. Huis Neethling: Esteé van Heerden (huiskaptein), Amy Simons en Jolie Voges.