Alle oë is Saterdag (4 November) op die afskop van die WP-Rugbyunie (WPRU) se jaarlikse Score 7’s-toernooi gerig, waaraan 41 klubs in Kraaifontein gaan deelneem. Die toernooi word oor drie Saterdae beslis en die eindstryd vind Saterdag 18 November plaas.
Die spanne is verdeel in drie streeksgroepe – Streek 1, Streek 2 en Streek 3 – en elke groep bestaan uit twee afdelings. Spanne in die onderskeie afdelings word in volgorde geplaas soos hulle vanjaar in die onderskeie ligakompetisies (15’s) van die WPRU geeindig het.
Volgens Denzil Titus, bestuurder van klubrugby in die WPRU, moes klubs ’n inskrywingsfooi van R2 000 betaal indien die klub in nuwe of bykomende truie (verlede jaar se ontwerp) wil speel. Slegs geregistreerde spelers by klubs vir die 2023-seisoen, mag deelneem.
“Spanne wat onttrek sal nie weer in die toekoms aan die Score 7s-toernooi deelneem nie. Tot en met Dinsdag het ons gesoek na velde om die toernooi aan te bied, omdat die rugbyligaverpligtinge van WP afgehandel is, deel klubs hul velde met somersportkodes. Ons bied die toernooi vanjaar by Kraaifontein-rugbyklub se velde aan,” sê hy.
Die wedstryde begin Saterdag om 12:30 met Hands & Heart teen Kraaifontein op die A-veld en Brackenfell teen Delft op die B-veld.
Afdeling A: Brackenfell, Hands & Heart, Bellville, Scottsdene, Kraaifontein en Delft.
Afdeling B: Tygerberg, NTK, Belhar, Hamediehs, Elsiesrivier en Bishop Lavis.
Afdeling A: Helderberg, Kuilsrivier, Young Peoples, Blue Stars, Strand United en Blakes.
Afdeling B: Durbell, St. George’s, Pniël Villagers, Eersterivier, Sir Lowrians en Paarl-Rangers.
Afdeling A: Hamiltons, SK Walmers, Collegians, Gardens, Manenberg-Rangers, Caledonian Roses, Retreat, Young Ideas en Progress.
Afdeling B: Valsbaai, Hamlets, Busy Bees, Rangers, Young Wesleys, Violets, Peninsula, Polisie en Whistling Wheels.