Lemoentyd help byna vir Excelsior na wenpad

Die Excelsior-rugbyklub het Saterdag (3 Februarie) in sy eerste vriendskaplike wedstryd voor die aanvang van Westelike Provinsie-klubrugbyseisoen met 15-19 in die doodsnikke van sy stryd teen Strand United vasgeval.


Die Excelsior-rugbyklub het Saterdag (3 Februarie) in sy eerste vriendskaplike wedstryd voor die aanvang van Westelike Provinsie-klubrugbyseisoen met 15-19 in die doodsnikke van sy stryd teen Strand United vasgeval.

Die spanne het in ’n opwarmingswedstryd op die B-veld van die Danie Craven-stadion kragte gemeet.

Navan Samuels, die linkervleuel van Excelsior, het vroeg reeds die tuisspan op die voorvoet geplaas toe hy ’n 40 m-strafskop suksesvol deur die pale gejaag het (3-0). Die manne van die Strand het egter dadelik teruggeslaan en met ’n verdoelde drie geantwoord nadat ’n Excelsior-speler nie die bal onder beheer kon kry nie (3-7).

Net voor die rustyd het die besoekers weer agter die doellyn gaan kuier, maar dié keer kon sy stelskopper nie met die doelskop slaag nie (RT: 3-12).

In lemoentyd het die Excelsior-afrigtingspan harde woorde met die spelers gedeel en besluit om ’n paar veranderings aan te bring. Dít het ’n positiewe uitwerking gehad en die Stellenbossers het onmiddellik die stem dik gemaak en die wedstryd begin oorheers.

Die oorheersing het vrugte afgewerp en die Excelsior-kaptein en -agtsteman, Charlton Pietersen, het in die hoek vir vyf punte oorgeduik. Die stelskopper, Nazmie Cornelson, kon nie met die doelskop slaag nie (8-12).

Daarna het die tuisspan beheer van die wedstryd geneem en sy stempel begin afdruk. Die skare het gejuig toe die slot, Joe Khuse, agter die doellyn gaan kuier het om sy span weer die voortou te gee en Morgan Wentzel het met die doelskop geslaag (15-12).

Kort daarna het Excelsior weer ’n aanval begin en Cornelson het van ’n losskrum oorgeduik, maar die skeidsregter het bepaal dat die bal deur Strand United opgehou is en die drie is nie toegestaan nie.

Die Stellenbossers het nóg druk op die Helderbergers toegepas en was twee keer oor doellyn, maar albei pogings is deur die skeidsregter afgekeur.

Nadat die voltyd-sirene reeds geblaas het, was United op die aanval en hy het deur die verdediging gebreek om die wedstryd 15-19 te beklink.

  • Hierdie naweek is Excelsior weer in ’n vriend­skap­like wedstryd teen die Young Stars-rugbyklub in aksie. Die wedstryd word Saterdag op die Cloetesville-sportterrein gespeel. Die eerste spanne skop om 16:00 af.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.