Bloemhof se top-student, Lenka Steenkamp, het 95,83% behaal en sê sy is baie bly oor haar goeie punte.Foto:


Die Hoër Meisieskool Bloemhof het goed in die 2021-ma­triek­eind­eksamen presteer met ’n 100%-slaag­syfer.

Altesaam 98,6% slaag met matriek­vrystelling (139 van die 141 kandi­date), 50,4% (71 kandidate) slaag met ’n A-simbool en 84,4% (119 kandidate) slaag met ’n gemiddelde B-simbool of hoër.

Bloemhof se topstudent, Lenka Steenkamp, het ’n gemiddelde van 95,83% behaal en sê sy is baie bly oor haar goeie punte. “Ek is gemotiveerd en streef altyd om my beste te doen. Ek het ook geweet dit is nodig vir my finale aanbod om medies te studeer. Ek het nog altyd geglo aan die gesegde: ‘Hoe meer jy het om te doen, hoe meer kry jy gedoen’. Ek het vir Bloemhof se eerste tennis- en netbalspan gespeel – alhoewel daar min sport die afgelope twee jaar was. Ek het ook saans klubnetbal gespeel en het in die grendeltyd ook geoefen. Ek was goed voorbereid vir die rekordeksamen en het daarna net op probleemgebiede en vraestelle gefokus,” voeg sy by.

Sy sê die grendeltyd het nie ’n invloed op haar akademie gehad nie. “Ons het alles aanlyn ontvang en dit het my gepas om op my eie tyd te werk. Ek het egter die interaksie met my vriendinne en die onderwysers gemis en natuurlik die sport, mededinging en toere.”

Haar raad aan matrieks is: “Werk hard. Sorg dat jy goed vaar in al jou toetse, want dit tel 25% van jou finale punt. Maak ekstra tyd vir sport en ontspanning. Maar die belangrikste van alles, is geniet matriek.”

Steenkamp sê sy is opgewonde om haar droom na te streef. “Ek wil graag eendag as ’n chirurg spesialiseer en sal moontlik in die buiteland my nagraadse studies voortsit. Ek gaan steeds gebalan­seerd my studies aanpak en wil ook graag vir Maties netbal speel.”

You need to be Logged In to leave a comment.