Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het verlede week met trots sy nuwe gelukbringer, Lenny die Luiperd, as die jongste lid van die rampbestuurspan verwelkom.


Die Kaapse Wynland-distriks­munisipaliteit (KWDM) het verlede week met trots sy nuwe gelukbringer, Lenny die Luiperd, as die jongste lid van die rampbestuurspan verwelkom.

Lenny is amptelik met behulp van ’n boeiende interaktiewe toneelstuk by die Groendal Laerskool in Franschhoek aan jong leerders voorgestel.

Met Lenny as die hoofkarakter, vergesel deur die karakters Sara en mnr. Jackson, is kinders ingelig oor die moets en moenies van die gebruik van kerse tydens beurtkrag, die risiko’s van oorstromings wat deur rommelstrooiing veroorsaak word, en ander belangrike inligting oor brande en oorstromings. Een van die belangrikste lesse van die toneelstuk is die noodkontaknommer, wat seker maak dat kinders weet hoe om in ’n noodgeval hulp te soek.

Lenny sal in die volgende week skole oor die distrik heen besoek om die toneelstuk vir grondslagfase-leerders op te voer. Lenny sal ook spesiaal ontwikkelde aktiwiteitsblaaie uitdeel, wat fokus op brande en oorstromings en die sleutelboodskappe wat tydens die interaktiewe sessies oorgedra word, versterk.

“Lenny die Luiperd sal ’n belangrike rol speel om ons jonger inwoners teen rampe, omgewingsgevare en brande veilig te hou,” sê Anesca Roodt, munisipale woordvoerder.

“Gegewe die erkenning dat spel en interaksie die beste leermetode vir kinders is, skep Lenny se teenwoordigheid as ’n vriendelike en prettige gelukbringer ’n omgewing waarin kinders gemaklik voel en ontvanklik is vir die belangrike onderwerpe wat vir hulle geleer word.”

Dié gelukbringer is gebore uit die Partnership for Risk and Resilience (P4RR), ’n samewerking wat in 2019 tussen die KWDM en Santam gevestig is.

“Een van die doelwitte van die P4RR is om munisipaliteite met verskeie hulpbronne toe te rus, insluitend hulpmiddels vir bewusmaking en uitreiking. Die KWDM het die vervaardiging van ’n gelukbringer versoek om bewusmaking- en opvoedingsprogramme te versterk.

“Santam het ook die produksie van die interaktiewe toneelstuk vir Lenny se amptelike bekendstelling gefinansier, wat deur Spektrum Kinderteater opgevoer word,” sê Roodt.

Terwyl Lenny hoofsaaklik in die KWDM se rampbestuurseenheid gesetel is, sal hy ook in munisipale gesondheidsdienste ’n rol speel en by bewusmakingsprogramme oor omgewingsgesondheid betrokke raak. Hy sal ook die brandweerdienste bystaan met opvoeding oor brandveiligheid, insluitend die uiters belangrike stop, val en rol-tegniek.

Clara Meyer van rampbestuur, KWDM, het hierdie woorde vir die kinders gehad: “Ons wil hê julle moet hierdie boodskap huis toe neem en wat julle vandag geleer het met julle ouers deel, om hulle te help om julle veilig te hou.”

You need to be Logged In to leave a comment.