LESERSBRIEF: Botmaskop – Houding grief

, ,

Die debat rondom die Botmaskopontwikkeling in Stellenbosch het gelei tot ‘n verskeidenheid menings, wanvoorstellings en nuwe verdeeldhede. As inwoner of belanghebbende is jy óf vir óf teen, met geen ruimte […]


Die debat rondom die Botmaskopontwikkeling in Stellenbosch het gelei tot ‘n verskeidenheid menings, wanvoorstellings en nuwe verdeeldhede.

As inwoner of belanghebbende is jy óf vir óf teen, met geen ruimte vir onderhandeling nie. Ek neem nogal aanstoot met die naratief wat geskep word deur die ondersteuners van die ontwikkeling, synde almal wat daarteen gekant is, konserwatief, verkramp, naiewe greenies en teen ontwikkeling en vooruitgang is.

Die neerhalende maniere waarop bekommerde inwoners in die gesprek aangespreek word, is verregaande en ‘n teken van óf blinde arrogansie óf oningeligtheid. Ek is nie anti-ontwikkeling en -vooruitgang nie, ek is gewis nie anti-transformasie nie. Ek is nie blind vir die behuisings- en ander probleme in Stellenbosch nie. Ek kom nie uit “ou geld” nie en ek is nie eiegeregtig oor my aandeel in die dorp nie. Ek klou nie vas aan prentjies van die 1960’s en 1970’s nie, maar weet wel waarom ek ‘n pophuis vol geld vir ‘n onopgesmukte huis betaal het, en sal dié elemente wil beskerm.

Ek is wel anti-rampokkery en teen boeliegedrag van ontwikkelaars wat maak asof hulle dié is wat weet wat die dorp nodig het. Ek is anti- private partye wat die reg uit owerhede en gemeenskappe se hande probeer neem met prosesse en praktyke wat ‘n direkte invloed op die hele gemeenskap het.

Ek is anti-ondermyning van gebalanseerde opinies. Ek is anti- hoogdrawende sakelui wat met vals feite intimideer. Ek is anti, maar ek is nie dom of naïef nie.

Anoniem, UNIEPARK

You need to be Logged In to leave a comment.