Ek het ’n paar weke gelede in Eikestadnuus die “Wilde Weste”-brief rakende Cloetesville gelees (“Misdaad in Stellenbosch – maar wat van Cloetesville?”, 23 Januarie).
Ek kon daarmee saamstem, want ons bly al vir jare in Langstraat en dinge was nog nooit só erg nie.
Dis net totdat iets werklik met ’n mens gebeur dat ’n mens eintlik die vrese sal verstaan waarmee die inwoners lewe.
Toe my broer alleen Woensdagmiddag 5 Februarie by een van die spazawinkels om die draai van U-save iets gaan koop, is hy in sy kar beroof. Drie mans het hom genader om geld te vra, maar hy beweeg nooit met kontant nie en het aan hulle gesê dat hy ongelukkig nie het nie.
Toe hy in sy kar klim, die deur toemaak en net-net wil toesluit, maak een van hulle vinnig die deur oop en dreig hom met ’n mes voor sy bors vir sy selfoon.
Nou, liewe leser, ons as gesin dien almal die Here en Hy leer ons om ons vriende én vyande lief te hê. But jinne! Nie een van ons was daardie oomblik lief vir wie-ever dit aan hom gedoen het nie.
Rondom 19:00, op ’n tracking device, sien ons by wie se huis die selfoon is. Dit wys ook die van van die familie waar sy foon se Wi-Fi gekoppel is. Ongelukkig het dit nie gehelp nie.
Ek’s ook dankbaar aan die vier beamptes van die Cloetesville-polisiekantoor wat saam met ons na die huis gegaan het. Dit was baie hartseer om ’n bekende gesiggie in daardie huis te sien, veral omdat ons saam as kinders in my auntie se straat gespeel het. Hy’s wel nie die een wat die selfoon gesteel het nie, tog was dit ’n skok om te sien by wie se huis my broer se foon antwoord gegee het.
Terwyl ons sonder die foon huiswaarts keer, besef ons dat dinge erger kon wees. Ons besef dat ten spyte van wat gebeur het, my broer steeds onder die beskerming van God was.
Toe tref dit my hoe baie ons – veral Cloetesville-inwoners – God eintlik nodig het. Mense sê gewoonlik “ons kan sonder God lewe, maar nie sonder Hom sterwe nie”. Tog kan ons nie meer sonder God leef nie. Ons word nie vrygespreek van die booshede wat om ons in die wêreld gebeur nie, maar God belowe in Psalm 91 dat ons in sy beskerming is.
Ek twyfel dat dinge in Cloetesville enigsins gou weer veiliger sal raak, maar ek twyfel nie dat God in staat is om Sy kinders te beskerm nie. Dalk voel jy dat net mense wat elke Sondag in die kerk sit, kwalifiseer vir God se beskerming, maar ek bring aan jou ’n blye boodskap: Psalm 22 vers 25 – God neem die gebed van ’n regverdige aan.
Ek kan jou waarborg, as jy met jou hele hart glo dat die Here die enigste ware God is, sal Hy jou gebed verhoor. Hy sal jou nie wegstoot of minder ag nie. Tog is dit my hoop dat jy ook ’n ontmoeting met God sal hê en jou lewe aan Hom toewy, want daar is geen ander uitweg vir ons nie (Jesaja 55).
Terwyl daar nog ’n kans is, keer terug na God en bekeer jou tot Hom. My broer dien sy hele lewe lank al die Here en selfs hy moes die gevaar van die “Dal” in die gesig staar.
Is dit nie ’n bewys dat God werklikwaar nie meer maak van ons wat bekeer is, as dié wat nie bekeer is nie? God het jou lief net soos Hy die een wat elke dag in die kerk is, liefhet.
Ek is steeds bietjie dikmond vir daai drie mans, maar ek kan nie help om te dink dat hulle miskien die geld nodig gehad het om dalk ietsie op die tafel te sit vir hul gesinne nie. Ek sugar coat nie hul dade nie; ek wil maar net probeer verstaan wat hul rede was.
’n Laaste ietsie aan die drie mans (en indien daar ander betrokke was): Omdat ek weet God het julle steeds baie lief, is dit my gebed dat julle eendag sal besef en glo dat God sy 99 skapies sal los om na dié wat verlore is, te soek (Lukas 15).
God seën julle.