Mense wat in die munisipale gebied van Stellenbosch woon, moet weet dat ons nuwe burgemeester, soos die vorige twee, aangestel is deur die federale en provinsiale strukture van ’n politieke party.

Hulle is nie voorgestel deur enige politieke strukture in die munisipaliteit van Stellenbosch nie.

Mense kon aansoek doen om die pos as burgemeester.

’n Kortlys is opgestel deur ’n paneel waarin verteenwoordigers van Stellenbosch ’n minderheid was, en so is die burgemeester aangewys.

Die koukus van die regerende party en die stadsraad was maar net die rubberstempels.

Dis onseker hoe die onderburgemeester aangestel is.

So ’n burgemeester sal na die pype dans van die mense wat hom aangestel het, en nie die raadslede en inwoners van Stellenbosch dien nie.

Hy kry sy opdragte van bo, veral betreffende belangrike sake. Hy moet in sy spoor trap, anders word hy vervang.

Die koukuslede van die regerende party het nie die murg in hul pype gehad om ’n eie kandidaat voor te stel en self ons burgemeester te kies nie. Dit moet nou end kry.

Kiesers moet hulle organiseer om ’n einde te maak aan hierdie minagtende optrede teen hulle.

Stellenbosser,

Stellenbosch

You need to be Logged In to leave a comment.