Toe ek in 1967 as assistant-stadsingenieur van die Stellenbosch-munisipaliteit aangestel is, het ek aangeneem die drif oor die Eersterivier in Koloniesland is die drif waarna die woonbuurt Mostertsdrift vernoem is, want dit was die enigste drif in die omgewing.
In daardie dae het die drif ‘n sementblad gehad en motors kon daardeur ry. Ek het gereeld daardeur gedraf. Die drif by die hangbrug is heelwat verder stroomop.
Ek woon nou al 55 jaar in Mostertsdrift en wonder steeds of my aanname reg was?
Die veiling vir die verkoop van die erwe is geadverteer vir 6 Desember 1902 met die naam “Mosterts Drift”. Of dit die plaas se naam was, weet ek nie. As dit was, is dit waarskynlik na ‘n drif oor die Eersterivier vernoem.
Die veiling van die erwe in Mostertsdrift is deur die prokureursfirma Paul D. Cluver adverteer.

Op die oog af lyk die uitleg op die 1902-plan net soos die buurt vandag is, maar by nadere ondersoek blyk dit dat baie veranderinge aangebring is.
Byvoorbeeld, Thibault-, Tuin- en Morgensterstraat was nie op die plan nie; ook nie die mooi groot park op die hoek van Rowan- en Jannaschstrate nie. Die erwe aan die suidekant van Rowanstraat het tot by die Meulsloot deurgeloop – lang smal erwe.
Die strate is nou breër. Rowanstraat is byvoorbeeld aangegee as 30 Kaapse voet wyd (9,45 m), maar nou is dit 50 Kaapse voet (15,74 m). Op die 1902-kaart is die erwe almal ewe wyd, maar vandag het min erwe dieselfde afmetings. Die strate het toe nog nie name gehad nie, maar, interessant, is Jonkershoekweg aangedui as “Main Road”.
Ek wonder of enige erwe op die 1902-veiling verkoop is, want dit sou administratief baie moeilik wees om al die veranderinge aan die uitleg te maak, soos dit nou is, as die erwe aan ‘n klomp private eienaars behoort het.

Die plaas Coetzenburg het gestrek van die Meulsloot, suid oor die Eersterivier. Oos van die erwe wat op Du Plessiestraat is, was die plaas Schoongezicht – nou die woonbuurt Karindal.
Die drif waarna, ek vermoed, Mostertsdrift vernoem is, het die afgelope 50 jaar verweer – eintlik verdwyn. Die sementblad het so 30 jaar gelede al weggespoel, en met die groot oorstromings onlangs het die rivier heeltemal verskuif.
Die rivier loop nou suid van die ou drif, en die ou drif is net rivierklippe.
Dr. Piet Claassen
STELLENBOSCH

You must be logged in to post a comment.