Die uitstekende skrywe van Johan Slabber, “Wie se Stellenbosch? ‘n Herbesinning oor Botmaskop”, in reaksie op Johan Fourie se duidelik ondeurdagte en ietwat amateuragtige meningstuk oor die Botmaskop-ontwikkeling, het betrekking (Eikestadnuus, 5 Junie).
Met Jeanette de Klerk-Luttig se onlangse artikel in Rapport van 25 Mei, “Pasop, universiteite kan jou kind ook ‘n rooi pil injaag”, boonop vars in die geheue, kon ek nie anders as om die Wilgenhof- en Theuns du Toit-sages in verband te bring nie.
In die Wilgenhof-geval is ‘n tien-ton-hamer gebruik om ‘n muggie mee dood te slaan. Dit het onder meer enorme agterdog, kostes, tydvermorsing, oorreaksie en emosionele skade tot gevolg gehad.
In die Theuns du Toit-geval het die uitkoms van die onlangse hofsaak, indirek, ‘n verdoemende vinger gewys na die Universiteit Stellenbosch (US) se sogenaamde tugproses, met groteske foute wat deur die senior bestuur (steeds dieselfde hoogs professionele mense) gemaak is. In die konvokasie se reaksie ná die hofsaak en met verwysing na die US se senior bestuur, word woorde soos onbeholpenheid, onverantwoordelik, verleentheid, meedoënlose heksejag, politiekery op bestuursvlak, oordrewe politieke korrektheid en gedienstigheid aan ‘n rasbehepte staatsideologie gebruik.
Volgens die konvokasie skuld die US Du Toit, sy familie, vriende, asook koshuismaats ‘n verskoning.
En die US se reaksie? “Ons was nie ‘n party tot die hofsaak nie, so ons kan nie kommentaar lewer nie.” En: “Die tug- en appèlproses is afgehandel – geen verdere kommentaar.” En: “Ons beskou die saak as afgehandel.”
Watter hovaardige en arrogante houding deur die bewoners van hierdie ivoortoring! Nederigheid is gewis nie hierdie untouchables se beste eienskap nie.
Ek hou nie asem op dat die bewoners van die US-ivoortoring om verskoning sal vra vir hul ondeurdagte uitsprake, besluite en aksies nie. Tydens my (genadiglik) lang lewe het ongelukkig meer mense my teleurgestel as diegene wat my beïndruk het met hul integriteit, eerlikheid en betroubaarheid.
Maar, ek is tog hoopvol en miskien beskaam die hoop nie.
Leon Kemp,
Die Boord
*Dié brief is aan die US vir kommentaar gestuur, maar die geleentheid om kommentaar te lewer is van die hand gewys. – Red.