Stellenbosch het ’n nuwe burgemeester. Mag hy ’n man van visie en daad wees.
Ons soek ’n burgemeester met ’n visie om die sake wat al ons gemeenskappe raak, die hoof te bied – iemand wat wyd kan sien; wat sal besef dat ons nie mense kan toelaat om ons berge en ons wingerde en ons fynbos vir luukse huise te beset nie.
Net so ook iemand wat nie mense sal toelaat om ongebreideld al hoe nader te kom om Papegaaiskop, ’n natuurreservaat, en dit te beset nie.
Ons soek iemand wat ’n plan kan bedryf om te bepaal waar dinge in ons munisipaliteit kan plaasvind sonder om die karakter van die dorpe te verander – ’n baie groot aantrekkingskrag vir ons bloeiende toerismebedryf. Indien ons ons wingerde stuk-stuk verkoop, sal ons wynbedryf – en daarmee toerisme – kwyn. Sekere soort ontwikkelings bring nie noodwendig voorspoed nie. Toeriste (en ons) wil nie geskende berge en heuwels sien nie.
Ons soek ’n burgemeester wat steun sal gee aan die spoedige ontwikkeling van die Adam Tas-korridor, wat aan Stellenbossers se behoeftes sal voldoen, en nie berge en bestaande huise sal vernietig nie.
Wat gaan die burgemeester doen aan die agterplaasbewoners? Dis ons mense; ons moet na hulle kyk. Moenie vir ons sê dis die nasionale regering se taak nie. Met die beskikbare breinkrag en hulpbronne in ons munisipaliteit kan ons sekerlik die probleem verlig.
Ons wil hê ons burgemeester moet die amptenary bemoedig en aanmoedig om hul werk met ywer te doen.
Ons soek ’n burgemeester wat reguit met die Universiteit Stellenbosch sal praat oor ’n die groeiende studentetal wat ons woonbuurte vernietig, ons paaie verstop en ons parkeerplekke vol staan.
Sal ons burgemeester die bemiddelde mense van ons gebied kan beweeg om vaardigheidskole te stig om ons mense op te lei om ’n werk te doen en ’n ambag te beoefen?
Mag ons burgemeester meer kyk en luister as praat.
Mag die nuwe burgemeester kundige raadgewers aanstel – mense wat ons behoeftes raaksien om planne te maak om ons probleme aan te durf. Moenie net sê: “Dit val nie binne die mandaat van ’n munisipaliteit nie.” Praat met die mense wat iets kan en wil doen.
Mag ons burgemeester opstaan en die mense inspireer en aanvuur om uit te reik na mekaar en mekaar te begelei na ’n beter lewe vir almal.