Prof Leslie Swartz (middel) ontvang die gesogte Science-for-Society Goue Medalje vir 2019 van ASSAf by ‘n toekenning-seremonie wat Woensdagaand in Pretoria gehou is. By hom is prof Jonathan Jansen (regs), President van ASSAf, en Prof Eugene Cloete, Viserektor van navorsing, innovasie en nagraadse studies aan US.


swartz

Prof Leslie Swartz (middel) ontvang die gesogte Science-for-Society Goue Medalje vir 2019 van ASSAf by ‘n toekenning-seremonie wat Woensdagaand in Pretoria gehou is. By hom is prof Jonathan Jansen (regs), President van ASSAf, en Prof Eugene Cloete, Viserektor van navorsing, innovasie en nagraadse studies aan US.

Oor die afgelope dekade het die studie van gestremdheid as ’n akademiese dissipline in Afrika, veral Suid-Afrika, geweldig uitgebrei, onder meer weens die toewyding van prof Leslie Swartz, ’n uitgelese professor in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Swartz, wat beskou word as een van die mees produktiewe en invloedryke wetenskaplikes op sy gebied, is verlede week deur die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika (ASSAf) vir sy toewyding tot die ontwikkeling van gestremdheidstudies vereer. Hy het die gesogte Science-for-Society goue medalje vir 2019 ontvang het.

Volgens ASSAf is die medalje aan Swartz toegeken vir “uitnemendheid in die toepassing van uitstaande wetenskaplike denke in diens van die samelewing”. Swartz is die enigste akademikus in Suid-Afrika wat vanjaar die medalje ontvang het.

Die medalje is toegeken deur prof Jonathan Jansen, president van ASSAf, by die ASSAf Toekenning-seremonie wat by die Capital Hotel-Menlyn Main in Pretoria gehou is.

Vir Swartz was dit altyd vanselfsprekend dat gestremdheidstudies een van sy navorsing-fokusareas sou wees. Dit is ’n interdissiplinêre veld wat handel oor hoe en waarom ongelykheid in gestremdheid plaasvind en voortduur. Die eerste leidraad was in die vorm van sy 2010 biografie, Able-Bodied: Scenes from a curious life, wat die verhaal vertel van sy gestremde pa, maar wat ook gestremdheid uit ’n akademiese perspektief ondersoek.

Swartz het nie net gekonsentreer op die ontwikkeling van gestremdheidstudies nie, maar het meer as 250 artikels oor die onderwerp in ’n reeks internasionale vaktydskrifte gepubliseer. Hy het ook gedien as hoofredakteur van die African Journal of Disability tot 2018. Onder sy leierskap het die publikasie ’n sleutel-speler in die internasionale veld van gestremdheidstudies geword. Hy is ook die mede-redakteur van twee internasionale vaktydskrifte. 

Hy is ’n kernlid van die African Network for Evidence-to-Action in Disability wat akademici in gestremdheidstudies oor Afrika verbind en ook met hul eweknieë in ekonomies ontwikkelde lande werk. Swartz is ook ’n internasionale adviseur van die Institute for Culture and Society aan die Western Sydney Universiteit en dien ook op die Internasionale Adviserende Raad van die Movement for Global Mental Health.

Onlangs het Swartz se deurlopende projek om gestremdheidkwessies deel van die hoofstroom in die burgerlike samelewing in Suid-Afrika te maak, daartoe gelei dat hy befondsing ontvang het van die Nasionale Navorsingstigting. Die befondsing is vir ’n reeks openbare geleenthede rondom gestremdheid en burgerskap in Suid-Afrika, en dit het gelei tot die skryf van die Palgrave Handbook of Disability and Citizenship in the Global South, waarvan hy mede-redakteur was. 

Dr Therina Theron, senior direkteur van navorsing en innovasie aan die US, het Swartz geloof vir die sentrale rol wat hy gespeel het in die diversifisering van die akademie en as ’n aktivis “wat wetenskaplike gemeenskapsbetrokkenheid- en skakeling ernstig opneem”.

“Hy het nie net ’n leidende rol gespeel in die ontwikkeling van die veld van gestremdheidstudies in Suid-Afrika nie, maar is toegewy in sy poging om die navorsingskapasiteit te ontwikkel van mense wat voorheen uitgesluit was uit die akademiese veld en om die beginsels van wetenskaplike betrokkenheid toeganklik te maak vir die breër gemeenskap. Om hierdie rede is hy gesog as ’n akademiese mentor en dra hy gereeld by tot die opleiding van meer junior navorsers aan ’n reeks Suid-Afrikaanse universiteite,” het sy bygevoeg.

Tydens die seremonie het Swartz gesê: “Ek is baie dankbaar vir hierdie toekenning, en ek is diep geëerd. Ek sou nie hierdie toekenning ontvang het as dit nie was vir die hulp en ondersteuning van my gesin, my studente en kollegas en die vele mense wat die geduld en vrygewigheid gehad het om my in hul lewens toe te laat as deel van my navorsing en akademiese werk.” 

Hy het ook die US bedank vir die “ondersteunende omgewing” wat dit vir hom bied deur verskeie afdelings en bronne.

 Swartz het bygevoeg dat hy akuut bewus is van hoe bevoorreg hy was om te kon werk met en langs gestremde persone in Suid-Afrika en verder in Afrika om sy navorsing in gestremdheidstudies te vorm en uit te brei.

“Hulle het goeie rede gehad om my as wit, manlike nie-gestremde Suid-Afrikaner te wantrou, tog het hulle my die voordeel van hul baie geregverdigde twyfel gegee, en my toegelaat om met hulle te werk. Indien hierdie toekenning oor enigiets gaan, gaan dit oor die geleenthede wat ons almal het tot ’n meer inklusiewe wêreld vir almal by te dra.

“Ek wil alle navorsers, afgesien van hulle dissipline, aanmoedig om te dink hoe hul werk mense kan insluit wat liggaamlik en geestelik nie die norm is nie, maar wat net so waardevol as ander is. Ons kan nie diversifiseer of ons universiteite dekoloniseer sonder om ons werk toeganklik vir almal te maak nie – en dit sluit in mense met gestremdhede van alle soorte.”

You need to be Logged In to leave a comment.