Die agtste Adam Small-fees het die afgelope naweek in Pniël plaasgevind en het alles van gedigte tot Yaardt-musiek opgelewer.
Die jaarlikse fees het Vrydag begin met boekbesprekings, ’n viering van Moedertaaldag (21 Februarie) en selfs ’n gesprek oor Yaardt Musiek deur die bekroonde skrywer Mia Arderne. Plaaslike skrywers en digters het ook kans gehad om hul werke ten toon gestel.
Vanjaar se tema, “Kô laat ons dans” kom uit een van Adam Small se bekendste gedigte “Kô, laat ons sing”.
Hulde is deur die digter Diana Ferrus en die Mengelmoes Digters aan die ontslape Breyten Breytenbach gebring.
Die program is Saterdag voortgesit en Saterdagaand se musiekprogram, “Kô lat ons dans”, met Frazer Barry, Brandon October, Selby Williams en die Crescendo Orkes was gewis ’n hoogtepunt.
Sondag was daar nog ’n sessie ter ere aan Breytenbach met die digter Fanie Olivier, die skrywer Dominique Botha en die feeskoördineerder Darryl Earl David, wat die digter se lewe en loopbaan gevier het. Olivier het vertel van die invloed wat Breytenbach se werk gehad het en die gedigte wat hy vir en oor Breytenbach geskryf het. In sy jonger dae het Olivier die geleentheid gehad om as “snotneus-student” sy held te ontmoet en hy het staaltjies gedeel oor die “wonderlik man wat ’n groot impak op my lewe gehad het”.
Botha het op haar beurt haar gedig, geskryf ná Breytenbach se dood in November, voorgedra, terwyl David sy herinneringe van die digter gedeel het.
Die fees is by die Kongregasionalistiese kerk afgesluit met die bespreking “Gentrefikasie in Pniël en ander dorpies” deur prof. Ronnie Donaldson. Donaldson, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se geografiedepartement, was in gesprek met die joernalis Willemien Brümmer, wat oor die veranderende milieu van Stellenbosch en die omliggende dorpies gepraat het.
Donaldson en sy studente van die US het jare terug met navorsing oor die gentrifikasie van Jamestown begin. Hier het ontwikkelaars en nuwe inwoners begin breek en bou. Die vraag wat Donaldson en sy studente wou beantwoord, is wat met ’n klein, gehegte gemeenskap gebeur wanneer groot ontwikkeling kom en dit verander. Die akademici het uiteindelik na die verskynsel van gentrifikasie in Jamestown, Raithby, Kylemore en Pniël gekyk. Tydens die gesprek het plaaslike inwoners hul insae gedeel en Stellenbosch se eerste burger is ook om kommentaar ingespan. Die burgemeester, Jeremy Fasser, was ’n feesganger by die bespreking, maar het vinnig ’n sitplek op die verhoog ingeneem. Hy het sy en die munisipaliteit se dankbaarheid vir Donaldson en sy span se werk uitgespreek.
Fasser het beloof om met die navorsers te sit en hul bevindinge te bespreek.
Volgens Janine Myburg van die Pniël Erfenis en Kultuur Trust (PEKT) en die organiseerder, was die fees vanjaar weer ’n sukses.
“Ons het baie mense gehad wat ons besoek het met meeste wat van buite die vallei gekom het. Ek sou graag wou sien meer onderwysers, of diegene wat met kinders werk, moet die fees bywoon aangesien die fees ’n juweel van literatuur en kultuur is. Dit is só belangrik vir ’n kind om hieraan blootgestel te word,” sê Myburg.
Danksy die ATKV se Vriende van Afrikaans is die afgelope twee jaar hard gewerk om leerders by die fees te kry, met skryfkompetisies by plaaslike skole. Die wen-werke word dan by die fees voorgedra.