Die Blue Jay Group of Farms is tans in beheer van ses baie suksesvolle leersentrums vir plaaskinders op hul plase in die Wes-Kaap en dra by tot die opvoeding van 150 kinders.
Sessies by die sentrum op Timberlea word elke middag deur 30 kinders bygewoon. Uhlan Lackay het ’n ongelooflike liefde vir skaak by hierdie plaaskinders aangewakker, wat gelei het daartoe dat drie van hulle vir die Kaapse Wynlande-skaakspan gekwalifiseer het. Hierdie leerders is nou genooi om op 12 en 13 Mei aan die Wes-Kaapse spanproewe deel te neem.
Om hierdie prestasie te vier, is ’n skaakmiddag verlede Vrydag by die Blue Jay Farmstall gehou. Dr. Andrew Murray, ’n ervare skaakspeler, het gelyktydig teen sewe hoërskoolleerders, ses van Hoërskool Stellenbosch en een van Hoërskool Cloetesville, gespeel. Die middag was ’n groot sukses en almal het dit terdeë geniet.
Die ooreenkoms was dat ’n leerder wat teen Murray wen, R500 van die plaas sou ontvang. Na twee en ’n half uur se intense skaakspel, het slegs een kind daarin geslaag om Murray te wen.