Die “broederskap” van die afgelope twee jaar tussen Van der Stel-Evergreens (VDE) en Hamediehs word Saterdag (23 September) op die spits gedryf wanneer hulle in die eindstryd van Superliga-C (SLC) op City Park in Athlone meeding om as titelhouers van dié Superliga-afdeling aangewys te word. Hierdie wedstryd is een van vyf kragmetings wat drie eindstryde in Superliga-A, -B en -C, asook twee uitspeelwedstryde, insluit.
VDE en Hamediehs het tans een wedstryd elk teen mekaar gewen. Alles sal Saterdag afhang van wie vir wie ’n das gaan aansit om met die SLC-kroon weg te stap. Albei het sedert verlede jaar die paadjie saam gestap toe hulle onderskeidelik in die noordelike en suidelike sones gespeel en die top-9 gehaal het om vanjaar vir SLC te kwalifiseer.
In die 14 ligawedstryde in SLC vanjaar het albei die kaarte deurmekaar kom krap en afgereken met spanne wat vir drie jaar of langer in SLC speel. Dit was nie altyd maklik om die knoop deur te haak nie, maar die “broeders” het gewys dat jy niemand op sy baadjie moet takseer omdat hy uit dié sones kom nie. Op die dag van die wedstryd is dit die span wat die graagste wil wen wat met die louere wegstap.
Saterdag begin al die spanne op ’n skoon bladsy en geen genade gaan gegee of gevra word nie. In VDE en Hamediehs se wedstryd sal laasgenoemde hul nederlaag van vroeër vanjaar wil wreek om te wys dat hul vorige ervarings in Superliga-B hulle geslyp het om korte mette te maak met VDE, wat in 2017 gestig is.
Op papier lyk dit maklik, maar VDE sal niemand oor hom laat loop nie. Hy het juis verlede jaar die top-9-beker voor Hamediehs se neus weggeraap. Gevolglik word ’n taai stryd verwag.
In die eerste uitspeelwedstryd pak Macassar vir Kraaifontein. Macassar het in die halfeindstryd die knie teen Hamediehs (20-13) gebuig, terwyl Kraaifontein sy alie teen VDE (35-22) gesien het en met die kous oor die kop huis toe gestuur is. Dit was die derde keer dat Macassar in die halfeindstryd struikel en Kraaifontein kan ’n blitzkrieg verwag.
In VDE se halfeindstryd het Leroy Ruiters (losskakel), een van dié span se uitblinkers, 15 van VDE se punte met vyf doelskoppe en ’n drie aangeteken. Die ander uitblinkers was Wendell Dirks (heelagter), Ashwin Dube (senter) en Rantie Thomas (agtsteman), maar die generaal wat die vuur aangesteek het, was Hugh-Reece Christians (skrumskakel), wat in drie van VDE se drieë ’n aandeel gehad het deur die agterlyn vinnig weg te stuur. VDE se agterlyn kon met die bal baljaar nadat die pak die grondslag vir aanvalle gelê het.
Vir Saterdag se stryd het VDE genoeg skietgoed en hy sal ook sy ander spelskeppers inspan om Hamediehs se aanslag op die beker te stuit.
Franschhoek en Hands & Heart pak mekaar nadat KSUT eersgenoemde met 17-15 getroef en Schotsche Kloof-Walmers (SKW) vir Hearts met 50-7 afgeransel het. SKW was die hele seisoen onoorwonne, maar het in die laaste ligawedstryd teen All Saints vasgeval.
In Superliga-A kom Helderberg teen Maties in die hoofwedstryd te staan.