Alle paaie lei Saterdag (16 September) na City Park in Athlone waar die halfeindstryde van Superliga A, B en C van die WP-rugbyunie beslis word. Toeskouers gaan op liplek-lekker kragmetings getrakteer word en dis die voorgereg voor die hoofgereg in die eindstryde in elke afdeling wat Saterdag 23 September gespeel word.
In Superliga C (SLC) pak Van der Stel-Evergreens (VDE) vir Kraaifontein op die A-veld, terwyl Hamediehs op die B-veld kragte meet teen Macassar. Vir beide VDE en Hamediehs is die kragmetings belangrik, want albei het sedert verlede jaar saam-saam uit die Top-9 en in SLC die paadjie gestap en gevestigde spanne in SLC op hul baadjie gegee.
Saterdag is dit egter ’n ander storie, want hoewel al die spanne in aksie deur die loop van die seisoen mekaar gepak het, is dit nou ’n nuwe ball game, en vorige ontmoetings geld nie.
VDE sal nie afwyk van dit wat die hele jaar vir hom gewerk het en nou skielik met tierlantyntjies vorendag kom nie. Jy peuter nie aan iets wat nie stukkend is nie, maar bou op dit wat jy goed doen.
Hamediehs moes die afgelope Saterdag (9 September) hard veg vir sy plek in die halfeindstryd teen Busy Bees en kon eers laat in die tweede helfte die oorwinning van 18-13 verseker nadat Busy Bees die grootste deel van die wedstryd voorgeloop het. Die stryd teen Macassar gaan ook nie ’n piekniek wees nie, want die Helderbergers het ook in hul laaste kragmeting in die doodsnikke verloor met ’n skop wat mis was.
Albei halfeindstryde word op dieselfde tyd gespeel en skop om 13:30 af.
In Superliga B (SLB) pak Schotsche Kloof-Walmers (SKW) vir Hands & Heart en Franschhoek kom te staan teen CPUT. SKW het eerste en Franschhoek tweede in SLB geëindig. H&H het oor die naweek korte mette met All Saints met 19-14 gemaak.
In Superliga A (SLA) wag Villager op die uitslag van die stryd tussen Maties en Uni-Milnerton, wat gister (Woensdag 13 September) beslis is. Teen druktyd was die uitslag nog nie bekend nie. Ikeys pak Helderberg in die ander wedstryd.
Die uitspeelwedstryde en eindstryde word Saterdag 23 September ook op City Park gespeel.