Logan November ’n 15-jarige hokkiespeler van Idasvallei is onlangs in ’n onafhanklike skole-hokkiespan opgeneem wat in September vanjaar ’n toer na Nederland gaan meemaak. Foto:


Dit is die geleentheid van ’n leeftyd.

Só beskryf ’n 15-jarige hokkiespeler van Idasvallei sy kans om later vanjaar in Nederland hokkie te gaan speel.

Logan November, ’n graad 9-leerder aan die HTS Drostdy, is onlangs in ’n onafhanklike skole-hokkiespan opgeneem, wat in September vanjaar ’n toer na Nederland gaan meemaak.

“Ons het in Maart aan ’n hokkietoernooi in die Paarl deelgeneem en dis waar ek raakgesien en uitgenooi is. Ons het ses wedstryde gespeel waarvan ons vier gewen, een gelykop gespeel en een verloor het. Ek het twee doele aangeteken en vyf doele bewerkstellig,” vertel Logan.

Die senter-skakel sê hy is baie opgewonde oor die geleentheid om oorsee te gaan speel. “Dit is ’n baie groot kans. Nederland is bekend vir sy hokkie en ek sal die geleentheid kry om deur keurders van ander lande ook raakgesien te word. Ek wil graag eendag ’n beroepshokkiespeler word en hierdie geleentheid kan my die geleentheid bied,” voeg hy by.

Logan se ma, Jodene, sê hulle is baie trots op Logan. “Hy oefen hard en sit baie tyd in vir sy hokkie. Hierdie is regtig die geleentheid van ’n leeftyd. Dit is egter baie duur en ons sal vir baie van sy kostes moet betaal,” voeg sy by.

Logan het R41 000 om in Nederland te speel. “Ons reël geleenthede om geld in te samel. Ons gaan in Mei burgers en tjips verkoop en in Junie ’n Vadersdagete hou. Ons wil ook nog ander saamtrekke hou,” sê sy.

Enigeen wat ’n skenking wil doen of meer inligting rakende die geldinsameling benodig, kan Jodene of haar man, Byron, by 072 184 1917 of 082 745 2539 bel of per e-pos by novemberjodene13@gmail.com of novemberbyron51@gmail.com kontak. Jy kan ook bydra tot Logan se Back-a-Buddy rekening. 

You need to be Logged In to leave a comment.