Die drome van meer as 80 Longlands-inwoners is verlede Donderdag (28 September) bewaarheid, toe Stellenbosch-burgemeester adv. Gesie van Deventer tydens ’n spesiale geleentheid die titelaktes aan die ingenome inwoners oorhandig het.
Huiseienaarskap skep bemagtiging en geleenthede; dit is ’n weg na die vryheid waarna baie begunstigdes oor hul leeftyd smag. Dis veral die geval vir Hermanus Otto, die oudste begunstigste by verlede week se oorhandiging. Hy was heeltemal oorweldig met emosie, met die wete dat hy nou ’n wettige huiseienaar is, met ’n bate wat hy aan sy kinders kan nalaat.
Sowat 25 jaar gelede is inwoners huise as deel van die Longland-Vlottenburg-behuisingsprojek belowe. Die projek is deur vertragings belemmer, maar toe Van Deventer die burgemeesterskantoor in 2016 beset het, het die projek top prioriteit geniet.
Ná intensiewe vergaderings met alle belanghebbendes in die gemeenskap, is ’n multilaterale ooreenkoms tussen die munisipaliteit, provinsiale regering en Longlands-village bereik.
’n Totaal van 106 huise is op die terrein as deel van die eerste fase van die projek verlede September gebou. Die munisipaliteit het op 145 erwe dienste installeer. Dit behels die bou van paaie, installasie van water infrastruktuur, rioolstelsels en krag aansluitings.
Die finansiering van die topstrukture is deur die provinsiale departement van menslike nedersettings verskaf.
Sedert Van Deventer in 2016 burgemeester geword het, het sy ’n daadwerklike poging gemaak om die proses van die oordrag van titelaktes te versnel. Meer as 2 000 titelaktes is van 2016 tot op hede aan die regmatige begunstigdes oorhandig, waarvan 65% vir nuwe behuisingsontwikkelings en 35% vir historiese projekte was.
“Dis voorwaar ’n eer om die geskenk van huiseienaarskap aan dié inwoners te gee. Om die eienaar van ’n huis te wees bied gemoedsrus en dien as ’n paspoort vir ekonomiese deelname,” het Van Deventer gesê. “As munisipaliteit sal ons ons pogings voorsit om titelaktes so gou as moontlik oor te dra. Bemagtiging begin met eienaarskap en vandag is ek verheug om hierdie inwoners en hul families te bemagtig”
Van Deventer het ook die Khaya Lam-projek van die Free Market Foundation bedank vir hul volgehoue steun in die bespoediging van die proses om titelaktes aan inwoners oor te dra.