Kubermisdaad het die afgelope paar jaar aansienlik toegeneem met kuberkrakers wat nie net mense uit derduisende rande bedrieg en swendel nie, maar ook die identiteit van sommige van die slagoffers steel.
’n Jong vrou van ’n plaas buite Stellenbosch vrees vir haar lewe, soveel so dat sy te bang is om na die middedorp te gaan nadat kuberkrakers haar Facebook-rekening gekraak en haar identiteit oorgeneem het.

Die kuberkrakers stuur sedertdien onvanpaste boodskappe onder haar naam op Facebook. Hierdie boodskappe het daartoe gelei dat LeeAnn Hendricks nou vrees om in die dorp en veral Cloetesville te kom.
Die kuberkraker het sedert Mei verlede jaar nog ander Facebook-rekeninge onder Hendricks se naam geskep.
“Ek het in Mei verlede jaar opgemerk dat iemand anders onder my naam op Facebook boodskappe plaas nadat ’n vriendin my daarvan ingelig het. Ek het dadelik my wagwoord probeer verander, maar kon dit nie doen nie en het toe ’n ander profiel op Facebook geskep,” vertel Hendricks.
“’n Paar weke later het ek opgemerk dat daar nog ander profiele onder my naam geskep is en die persoon wat dit doen stuur nou lelike boodskappe na my Facebook-vriende.
“Die persoon maak ook aaklige plasings oor mense in Cloetesville, soveel so dat ek al dreigemente ontvang het dat ek moet oppas om dorp toe te kom.
“Ek is bang om dorp toe te gaan, want mense dink dis ek wat die boodskappe gestuur het,” voeg sy by.
Hendricks beweer dat sy rondom September/Oktober verlede jaar die voorval by die Stellenbosch-polisie wou aanmeld, maar dat die polisie vir haar gesê het hulle kan haar nie help nie.
Die Stellenbosch-polisie sê egter geen klag is volgens hul rekords deur Hendricks aanhangig gemaak nie en dat die polisie inderdaad sulke klagtes ondersoek wanneer dit aangemeld word.
Kapt. Nathalie Martin, ’n polisiewoordvoerder, sê dit is nie maklik vir die polisie om hierdie soort kuberkrakers na te spoor nie, maar hulle los soms leidrade wat die polisie wel opvolg in ondersoeke.
“Mense moet nie enige vriendskapsversoeke op sosiale media aanvaar nie. Kyk deur die persoon se profiel en stel ondersoek in oor die persoon.”
Martin sê mense moet ook gereeld hul wagwoorde verander. “Maak seker dat jy gereeld jou wagwoorde verander, om sodoende te vermy dat jou rekening gekraak word.
Sodra jy vermoed jou rekening is gekraak, sluit jou rekening en meld dit aan.
Wees te alle tye waaksaam en op die uitkyk vir ongerymdhede en moet jou details en wagwoorde met niemand deel nie.”
Slagoffers van kubermisdaad word aangemoedig om dit dadelik by die polisie aan te meld en nie te probeer om self die probleem op te los nie.