Lorencia Muller (26) is ’n bobaas-netbal-administrateur.


’n Netbal-droom van ’n Cloetesvillese netbal-ster is onlangs vervul hoewel sy geglo het dit sou haar jare neem.

Lorencia Muller (26) se bobaas-adminis­trasievaardighede het haar onlangs die pos as bestuurder van die o.21-span vir die Kaapse Wynland-netbalvereniging besorg.

Muller is verbonde aan die Stellenbosch- netbal-subdistrik wat eens as plaas-netbal bekend gestaan het. “Daar is baie voordele vir ons om deel van die vereniging te wees. Nou het ons die kans om deel te wees van toernooie, kursusse en ander geleenthede,” verduidelik sy.

Vir Muller het sy haar ware liefde vir die sport as deel van plaas-netbal gevind. “Indien ek vandag my werk kon los en voltyds netbal speel, sou dit briljant wees,” terg sy.

Muller sê netbal is meer as net ’n sport, want tydens haar grootwordjare was dit ’n kans om van al die struikelblokke en uitdagings te ontsnap. “Ek het grootgeword in ’n gemeenskap waar jy baie dinge sien gebeur het – mense wat steel, moord . . . Netbal was ’n manier om weg te kom van dit alles; ’n manier om te vergeet van jou omstandighede.”

Nou, jare later, het haar liefde vir die sport net gegroei.

Waar sy eers op die baan was, is Muller nou langs die baan. Sy het vir haarself aan die einde van verlede jaar ’n nuwe netbal-doelwit gestel om binne die volgende drie jaar ’n administrateur vir die vereniging te word. Haar aanstelling vandeesmaand was dus ’n groot verrassing.

“Dis harde werk. Daarom het ek myself drie jaar gegee om die doelwit na te streef. Dit is werklik ’n droom van my wat nou bewaarheid is. Verlede jaar het ek alles gedoen om my vaardighede te verskerp en skaduwerk in verskeie rolle gjob shadow edoen,” het sy aan Eikestad Nuus verduidelik.

Administratiewe werk is gewis haar sterk punt, want benewens haar rol by die netbal-vereniging is sy gimnasium-administrateur by die plaaslike Virgin Active.

Vervoer, skoon sportklere asook water en lemoene vir halftyd is alles deel van haar rol. Tydens wedstryde wat nie regstreeks uitgesaai word nie, moet sy ook boekhou van spelers se spel om uiteindelik die span se algehele spel te help verbeter.

Die liga en so ook Muller se nuwe rol begin eers amptelik in April, maar sy sê die harde voorbereidingswerk begin nou reeds. Tot dan het sy vele ander netbal-verpligtinge en haar eie span jong spelers om haar besig te hou voordat sy as bestuurder van die o.21- Kaapse Wynland-netbal-span op die baan tree.

You need to be Logged In to leave a comment.