Lückhoff-leerders raak loopbaanwys

,

‘n Polisieman, ‘n bibliotekaris of dalk ‘n spietkop? Die leerders van die Hoërskool Lückhoff het verlede Donderdag (17 April) die kans gehad om eerstehands by verskillende beamptes meer oor dié […]


‘n Polisieman, ‘n bibliotekaris of dalk ‘n spietkop?

Die leerders van die Hoërskool Lückhoff het verlede Donderdag (17 April) die kans gehad om eerstehands by verskillende beamptes meer oor dié beroepe uit te vind danksy ‘n loopbaandag wat deur die Stellenbosch-munisipaliteit aangebied is.

Mohammed Shire (gr. 11-leerders) en Hillary Asagaya (gr.10) luister na wetstoepasser /// oor hoe presies beamptes hul toerusting gebruik. Foto: Yaël Malgas

Die plan was om die gr.10- en gr.11-leerders, asook die matrikulante opsies te bied wat om te doen wanneer hulle oor ‘n jaar of meer skool verlaat.

Mohammed Shire, ‘n gr.10-leerder, het veral belanggestel in die toerusting van die munisipale wetstoepassers. By die uitstalling van die reddingsbeamptes het Oliver Paulse verduidelik hoe hulle toerusting onder meer gebruik word om slagoffers van motorongelukke uit wrakke te sny en hoe hulle hul kollegas tydens brande, ongelukke en polisietonele bystaan.

Die polisie-uitstalling het Juan Moos, ‘n gr. 11-leerder, se aandag gelok, maar hy meen om brandweerman te wees, klink ook goed.

“Ek sal die fiksheidstoets slaag. Ek oefen gereeld by Virgin Active en om in ‘n brandende gebou te hardloop, sal nie ‘n probleem wees nie. Ek is ‘n bietjie bang vir skiet as ek ‘n polisieman sou word,” sê hy.

Die matrikulant Lee-Asië February sê hoewel brandweerbeamptes se werk interessant klink, sien sy nie kans vir die werk nie omdat sy asma het.

Haar klasmaat Jamey-Lee Scheepers sê die gewig van die brandweerklere is nie vir haar nie.

Sy voeg by sy het baie geleer oor polisiebeampte wees en besef die werk gaan nie net oor “mense skiet en dwelms nie”.

“Die beamptes het verduidelik hulle gaan na tonele waar mense dalk baklei het en hoe hulle dan moeite moet doen om almal te kalmeer en die mense te help om liewer dinge uit te praat,” verduidelik sy.

Jurgen Williams verduidelik aan leerders wat brandweerman wees, behels.

Volgens Sibusiso Mvakwendlu, senior superintendent vir verkeerswetstoepassing, was die doel van die geleentheid om die onderskeie beamptes se kennis en vaardighede ten toon te stel en ook om ‘n groter begrip van die talle loopbaankeuses en die verskeie departemente se rol in die gemeenskap te kry.

Achumile Gongqo, ‘n matrikulant, sê hoewel hy die loopbaandag geniet het, het hy reeds aansoek gedoen om onderwys te studeer.

“My sterkpunt is kommunikasie. My talent kan gebruik word om leerders te help. Ek is spraaksamige en sien uit na ‘n onderwysloopbaan.” verduidelik hy.

Matrikulant Zovyo Magenu was in haar noppies met haar brandweer-uitrusting. Foto: Yaël Malgas

You need to be Logged In to leave a comment.