Met harte gevul met dankbaarheid – dit is hoe die matriekklas van 1974 van die Hoërskool Lückhoff Saterdag (9 Maart) mekaar ná vyf dekades gegroet het.
Daar was vele drukkies, staaltjies om te vertel en gelag by dié klas se reünie en die bekendstelling van hul boek, 50 Jaar Later. In dié boek het 25 van die alumni oor hul reis van skoolkind tot volwassene geskryf. Van die skrywers het Saterdag vertel van die pak slae wat hulle gekry het, terwyl ander met trots vertel het van die liefde vir onderwys wat by hulle ingeboesem is.
Aan die stuur van die boek was Eleanor Damon, wat seker gemaak het al die medeskrywers het hul skrywes betyds ingehandig. Damon het verduidelik die doel van die boek is om as lewenskaart vir Lückhoff se huidige leerders te dien.
“Wat is die waarde van die Lückhoff-storie? Ons is hier om terug te kyk, maar ook om vorentoe te kyk en die klas van 50 jaar gelede te vier,” het Daniel Solomons, self een van Lückhoff se oud-hoofseuns, gesê. Solomons het die reünieklas bedank vir die spore wat hulle agtergelaat het.
Die alumni het veral hul oud-onderwysers geprys vir die positiewe invloed wat hulle op hul lewens gemaak het en het hul destydse skoolhoof, BC Pool, wat die geleentheid bygewoon het, uitgesonder.
Die alumnus Phyllis Jacobs het vertel van die drie dae lange treinrit wat sy moes neem om van die Oos-Kaap na haar skool in Stellenbosch te kom. Die alumnus Walton Lamberts het onthou hoe ’n versoek om botter by die nabye kafee te gaan koop hom en sy makkers in Pool se kantoor laat beland het nadat hulle eers ’n paar draaie gaan loop het.
Etlike het ook vertel hoe hulle as matrikulante by die skool weg is om later weer as onderwysers terug te keer, nadat talle van die oudleerders die skool se leuse – opvoeding is lig – uitgeleef en self onderwysers geword het.
’n Kers ter herinnering aan die klasmaats wat oor die jare oorlede is, is ook ter nagedagtenis aangesteek.
. Kontak Barend Williams by 082 777 1894 om ’n kopie van 50 Jaar Later te koop. Geld wat ingevorder word, sal aan die skool geskenk word.