Die Hoërskool Lückhoff se matriekklas van 1974 sal Saterdag 9 Maart sy nuutgeskrewe herinneringe aan hul alma mater met groot trots en dankbaarheid in Bloekomlaan, Idasvallei, bekendstel.
Die skrywe, getiteld 50 Jaar Later, sluit pensketse van sowat 21 matrikulante van 1974 se reis van skoolkind tot volwassene in. Die boek is geskryf as riglyne en lamppale vir die huidige matrikulante en selfs ander leerders wat sukkel om hul pad in die lewe te vind.
Erkenning aan hul onderwysers se positiewe invloed gedurende hul hoërskooljare en trots op hul alma mater vul al die stories. Die leser leer van die strengheid van onderwysers, van hul toewyding tot hul opvoedingstaak – nie net in die klaskamer nie, maar ook in sport en in kulturele sfere.
Die boek is ’n maklik-om-te-lees-samestelling met bydraes van oud-onderwysers, alumni en die huidige skoolhoof. Dit is ’n noodsaaklike “lees” vir veral die jeug. Voorbeelde van deursettingsvermoë, opoffering en die smag na meer en meer kennis is onmiskenbaar.
Daarby het die groep van 1974 daadwerklik bygedra tot die opheffing van die gemeenskappe waar hulle hulle bevind het en tans nog bevind.
Die bekendstelling word om 11:00 in die saal van die Hoërskool Lückhoff aangebied en sal deur verskeie hooggeplaastes, mede-skrywers en hul gesinne en gaste, asook die skoolhoofde en hoofprefekte van plaaslike hoërskole bygewoon word.
50 Jaar Later is deel van die Skryf Saam-reeks, wat in harde- en sagteband, kleur- of wit-en-swart-formaat beskikbaar is. Die prys is R190.
Skakel 072 836 1092 om bestellings te plaas.
. Die klas van 1974 het verlede week verneem van die sterfte van Cyril Jooste, een van hul klasmaats. “Ons innigste medelye aan sy familie, kollegas en vriendekring,” lui ’n verklaring wat deur die klas uitgereik is.