’n Gedenklesing ter ere van die oud-Lückhoff-onderwyser wyle Walter Parry is deel van die skool se feesvieringe.


In aanloop tot die Hoërskool Lückhoff se 90ste verjaarsdagvieringe volgende jaar hou die skool se alumni-groep vandeesmaand verskeie feesvieringe.

Sondag 19 Mei word ’n gedenkdiens by die plaaslike Volkskerk gehou vir oudonderwysers en -leerders wat oor die jare deel van die skoolgemeenskap was. ’n Kranslegging sal gehou word en die skool se geskiedenis sal gedeel word. Herinneringe oor akademiese, sport- en kultuurprestasies sal deel van die program wees.

Die gedenkdiens sal om 14:30 begin.

Woensdag 22 Mei word die feesvieringe voortgesit met ’n gedenklesing oor die merkwaardige lewe van Walter Parry.

Parry, ’n wiskundige en wetenskapmeester, was ’n wiskundeonderwyser by dié Stellenbosse hoërskool. Dié Distrik Ses-boorling het planne gehad om ’n kernfisikus te word, maar weens die land se destydse politieke stand was dit nie moontlik nie.

Parry het toe onderwyser geword, maar tydens sy loopbaan in Stellenbosch het hy, nie-amptelik, die Universiteit Stellenbosch (US) se fisika-departement bygestaan met sy kundigheid. Die gedenklesing sal onder meer uitbrei oor dié werk, asook Parry se persoonlike lewe en loopbaan by Lückhoff. Die lesing sal om 18:00 by die US se Alpha-saal in die Merensky-gebou aangebied word.

Vandeesmaand se vieringe eindig met ’n geldinsameling vir die skool. Die alumni bied Donderdag 30 Mei ’n gholfdag by die Stellenbosch-gholfklub aan. Geld wat hier ingesamel word, sal aan die skool geskenk word.

  • Kontak Stanley Amos, voorsitter van die Hoërskool Lückhoff se alumni-groep, by 082 464 6283 of stuur ’n e-pos na stanamos1950@gmail.com vir meer inligting oor die verskeie geleenthede.

You need to be Logged In to leave a comment.