Ná ’n nederlaag van 1-0 in die plaaslike derby teen Hoërskool Cloetesville op Vrydag 25 Augustus, moes die manne van Hoërskool Lückhoff vinnig die nederlaag afskud om as oorwinnaars uit die Kay Motsepe-streektoernooi te tree.
Lückhoff se o.19-sokkerspan moes op Saterdag 26 Augustus vier wedstryde trotseer om deur te dring na die eindstryd. Die eindstryd is Maandag 28 Augustus teen Ashton Combined School op Esselenpark-stadion in Worcester gespeel. Die Lückhoffers het die eindstryd met 1-0 gewen en is as streekswenner gekroon.
“Die velde vir die streekstoernooi was klein, so ons kon nie ons normale ‘game-plan’ speel nie, en ons moes toe aanpas by die toestand van die velde. Ons het dus meer op ons manne op die kant – linker- en regtervleuels – staatgemaak om die veld oop te maak en om kruisskoppe in te kry,” het Ronaldo van de Rheede, Lückhoff se afrigter, gesê.
“Ons middelveldspelers het gesukkel om hul ding te doen as gevolg van die klein veld. Hulle het ook kanse gevat om van buite die boks te skop. Maar ons manne het die taak verstaan om doele te skop en nie fancy sokker te speel nie.”
Die spanbestuurder, Leticia Smith-Simmerey, het gesê die seuns oefen al heel jaar vir die skolewedstryde gedurende die sokkerseisoen toe hulle ook ’n hele paar van hul wedstryde gewen het. “In die derde kwartaal het ons slegs een wedstryd gespeel en twee oefensessies per week ingewerk. Hierdie het ons beskou as voorbereiding vir die toernooi. Om oefensessies te reël was nie altyd ’n maklike taak nie, aangesien van ons seuns by buiteklubs soos Stellenbosch FC en Maties-sokkerklub ook deelneem.
“Ons wou ook nie té veel druk op hierdie jongmanne plaas nie, siende dat baie van hulle hierdie jaar in hul gr. 12-jaar is. Ons probeer om akademie en sport te balanseer,” het sy bygevoeg.
Die Kay Motsepe- provinsiale toernooi vind Vrydag 29 en Saterdag 30 September by die Saldanha School of Skills in Saldanhabaai plaas.